Die stategiese plan vir die Suid-Afrikaanse landbou is die produk van samewerking tussen die Regering, Agri SA en NAFU.

President Thabo Mbeki het vroeg in 2001 die verskillende rolspelers versoek om ’n gemeenskaplike strategie te identifiseer wat voldoende fokus sou verskaf om die sektor te verenig. Die strategiese sektorplan het uit hierdie versoek gespruit.

Die visie vir die sektor impliseer volgehoue winsgewende deelname aan die Suid-Afrikaanse landbou-ekonomie deur al die rolspelers. Die behoefte word erken om kommersiële produksie te handhaaf en te verhoog, internasionale kompetisie uit te bou en die historiese erfenisse en vooroordele wat tot ongelyke toegang en verteenwoordiging gelei het, reg te stel. Dit bied ’n duidelike voorstelling van wat die Suid-Afrikaanse landbou oor die lang termyn beoog.

Die strategiese plan bestaan uit drie kernstrategieë:

Billike toegang tot en deelname aan die landbousektor

-- Die doelwitte van hierdie strategie is om gelyke toegang tot en deelname aan landbougeleenthede te bevorder; besit van grond en ondernemings los te maak van ras; en om die sektor se volle ondernemerspotensiaal te ontsluit.

Wêreldmededingendheid en winsgewendheid

-- Die strategie se doel is om winsgewendheid te bevorder deur volgehoue globale mededingendheid in die landbousektor se insetvoorsiening, primêre produksie, agriverwerking en landboutoerisme te verhoog.

Volhoubare hulpbronbestuur

-- Die strategie beoog om boere se kapasiteite om hulpbronne op ’n volhoubare manier te benut, te verhoog en om die oordeelkundige gebruik en bestuur van die natuurlike hulpbronne te verseker.

Sommige elemente van die kernstrategieë is komplementêr en sal bydra om vertroue in die landbou te skep en te herstel. Met dié doelwitte in gedagte het die taakspan ’n aantal essensiële ondersteunende en bemagtigende strategieë geïdentifiseer:

  • Goeie regering

  • Geïntegreerde en volhoubare landelike ontwikkeling

  • Kennis en innovering

  • Internasionale samewerking

  • Veiligheid en sekuriteit

Hierdie komplementêre strategiese doelwitte voorsien die kritieke grondslag waarsonder die strategiese doelwit nie sal realiseer nie. Hulle beklemtoon ook die sektor se afhanklikheid van ander groepe staatsdepartemente en nywerhede se ondersteuning.

Die vennote wat self die verantwoordelikheid aanvaar het vir die plan se implementering, sal ook die gedetailleerde aksieplanne produseer.  Die leiervennote sal gevolglik die permanente, gesamentlike komitee in die lewe roep. Hulle doen ook moeite om die georganiseerde landbou, nieregeringsinstansies, gemeenskapsgebaseerde en buitelandse organisasies daarby te betrek.

Met die oog op die implementering van die strategiese plan, het die vennote die volgende prioriteitsprogramme en -aksies geïdentifiseer:

  • Implementering van die breë veiligheids- en sekuriteitstrategie om goeie werks- en maatskaplike stabiliteit, vertroue en geloof te verseker

  • Uitbouing van ’n gemeenskaplike visie vir die landbou, goeie regering en maatskaplike vennootskappe

  • Versnelling van die herverdeling van landbougrond vir landbou-ontwikkeling en die prosesse vir die bemagtiging van teikengroepe

  • Transformasie van landbounavorsing, tegnologie-oordraging, onderwys en voorligting om gevoelig vir markte te wees

  • Herdefiniëring van die mandaat vir landboubemarking en internasionale handel in die era na die afskaffing van beheerrade teenoor groter wêreldmededinging en eise vir marktoeganklikheid, infrastruktuur en inligting

  • Skep van geloofbare landboustatistiek en ekonomiese ontledingstelsels wat vir alle boere en ondernemings toeganklik sal wees

  • Vestiging van die geïntegreerde landelike finansiële diensstelsel wat deur die Strauss Kommissieverslag geskets is

  • Ontwikkeling van ’n doeltreffende, geïntegreerde risikobestuurstelsel vir plant- en dieregesondheidstelsels, prys- en inkomstestelsels en natuurrampe

  • Die teikening van investering in landelike ontwikkelingsnodusse om bestaansmoontlikhede, infrastruktuur, besproeiing, elektrisiteit, telekommunikasie, vervoer, opleiding- en vaardigheidsontwikkeling te verskaf

  • Vestiging van ’n landbousamewerkingsprogram vir Afrika om die Nuwe Afrika inisiatief in die landbou te implementeer

  • Verlaging van oorkoepelende produksiekoste, insluitend ’n verdere belastingverlaging en aksyns op diesel en ander insette.

In al hierdie doelstellings word die privaat sektor se waardevolle rol in die bereiking van die doelwitte van deelneming, mededingendheid en volhoubaarheid erken. Alles sal gedoen word om groter samewerking en koördinering tussen die regering en die privaat sektor te verseker—wat boere, boereverenigings en

landboubesighede impliseer, om die nuwe visie van ’n verenigde en voorspoedige landbousektor te verwesenlik.

Die volgende resultate word verwag in die suksesvolle nastrewing van hierdie strategiese doelwitte:

  • Groter skepping van rykdom in landbou en landelike gebiede

  • Verbeterde volhoubare werkverskaffing in die landbou

  • Verhoogde inkomste en verdienste van buitelandse valuta

  • Minder armoede en ongelykhede in eienaarskap van grond en onderneming

  • Beter boerderydoeltreffendheid

  • Beter nasionale en huishoudelike voedselsekuriteit

  • Stabiele en veilige landelike gemeenskappe, laer vlakke van misdaad en geweld en volgehoue landelike ontwikkeling

  • Beter beleggersvertroue en groter binnelandse en buitelandse investering in landbouaktiwiteite en landelike gebiede

  • Trots en waardigheid in die landbou as ’n beroep en sektor

Die deelnemers onderneem om die nodige tyd en finansiële en materiële hulpbronne te verskaf om die suksesvolle implementering van die strategiese plan moontlik te maak.

Die publikasie Strategiese plan vir die Suid-Afrikaanse landbou is verkrygbaar van Resource Centre,
Departement van Landbou
Tel (012) 319 7141

en verkrygbaar op die webtuiste: www.nda.agric.za

2002
U
itgegee deur die Departement van Landbou
Direktoraat Landbou-inligtingsdiens, Privaatsak X144, Pretoria 0001