Die Stragiese Plan vir Suid-Afrikaanse Landbou

 

Inhoud

Glossarium

Voorwoord

Verklaring van voorneme

1. Inleiding

2. Die visie vir Suid-Afrikaanse landbou

3. Die huidige werklikheid van die Suid-Afrikaanse landbou

4. Sektoruitdagings

5. Kernstrategieë

5.1 Strategie vir billike toegang en deelname  

5.2 Wêreldmededingendheid en winsgewendheid

5.3 Volhoubare hulpbronbestuur

6. Aanvullende strategieë

6.1 Goeie bestuur

6.2 Geïntegreerde en volhoubare landelike ontwikkeling

6.3 Kennis en innovering

6.4 Internasionale samewerking

6.5 Veiligheid en sekuriteit

7. Implementering van die strategiese plan

iii

 


Glossarium

Agri SA            Agri Suid-Afrika

BBP                Bruto Binnelandse Produk

BNP                Bruto Nasionale Produk

DHN                Departement van Handel en Nywerheid

DL                   Departement van Landbou

EU                  Europese Unie

GHLOP           Grond en Herverspreiding vir Landbou-ontwikkelingsprogram

GLIS               Geografiese Landbou-inligtingstelsel

GOP               Geïntegreerde Ontwikkelingsplan

GVLOS           Geïntegreerde en Volhoubare Landelike Ontwikkelingstrategie

IDGV               Internasionale Dieregesondheidsvereniging

LNR                Landbounavorsingsraad

LSK                Landbousakekamer

LUK                Lid van die Uitvoerende Komitee

MAP                Millennium-Afrika-herstelplan*

MinLur             Raad van Landbouministers

NAFU               National African Farmers’ Union

NBR                Nasionale Bemarkingsraad

­NDL                 Nasionale Departement van Landbou

N&O                Navorsing en Ontwikkeling

NOKOK            Nasionale Operasionele Koördinerende Komitee

NRO                Nie-regeringsorganisasie

PDL                 Provinsiale Departement van Landbou

SAID                Suid-Afrikaanse Inkomstediens

SAOG              Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap

SAPD              Suid-Afrikaanse Polisiediens

SANW             Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag

SEB                 Swart ekonomiese bemagtiging

SFS                 Sanitêre Fitosanitêre

USAID             United States Agency for International Development

VSA                 Verenigde State van Amerika

WHO               Wêreldhandelsorganisasie

*Verander na NUVOA: Nuwe Vennootskap vir die Ontwikkeling van Afrika

 


Voorwoord deur me Thoko Didiza, LP en Minister van Landbou en Grondsake

Die strategiese landbousektorplan is van kritieke belang omdat dit ‘n produk van die staat en die bedryf is. Ek spreek dus graag my opregte dank en waardering uit teenoor die President, mnr Thabo Mbeki, vir sy leierskap toe hy bedryfsverteenwoordigers van Agri SA en die National African Farmers’ Union (NAFU) genooi het om by die regering aan te sluit vir die opstel van ‘n gemeenskaplike landbouperspektief waartoe die staat en die bedryf hulle bydraes en hulpbronne sal lewer vir implementering. 

Die implikasies van hierdie vennootskap is dat die staat en die bedryf nou ‘n gemeenskaplike perspektief oor die sektor se strategiese kwessies deel; hulle kan die vennootskap uitbou vanuit ‘n gemeenskaplike raamwerk; hulle gaan die las van swart ekonomiese bemagtiging en die verbetering van landboubedrywe terselfdertyd deel, en van nou af het hulle gemeenskaplike sleutelboodskappe om aan die publiek, die sektor, ons land, die vasteland van Afrika en die wêreld oor te dra. 

Die visie van ‘n verenigde, nie-rassige en welvarende landbousektor berus op drie strategiese oogmerke, naamlik toegang en deelname, mededingendheid en winsgewendheid, en volhoubare hulpbronbestuur. Dit is ‘n langtermynvisie wat gedurende ‘n groot deel van hierdie eeu nagestreef sal word om ‘n nuwe landbou-orde teweeg te bring wat anders en beter is as die huidige. 

Die beoogde nuwe sektor sal daarop ingestel wees om sy historiese rol te speel om voedsel en landbouprodukte en dienste aan ons land, ons vasteland en die wêreld te verskaf. Vir dié doel het die Departement van Landbou voorgestelde aksies geïdentifiseer wat die staat sal moet verrig, en die toepaslike aksies in die strategiese plan vir die komende drie jaar opgeneem. Die Departement is voorts besig om dieselfde voorgestelde aksies op te neem in sy jaarlikse korporatiewe werkplanne vanaf 2002.

Op interowerheidsvlak het die Departement provinsiale departemente van landbou en openbare landbou-entiteite betrek en sal voorgaan om hulle te betrek om die strategiese sektorplan aan te neem as ‘n beleidsraamwerk vir die ontwerp van hulle onderskeie strategiese en korporatiewe werkplanne.

Op nasionale regeringsvlak het die Departement die strategiese sektorplan op die sakelys van die Kabinet se Groepstelsel geplaas om steun van ander departemente te kry om die plan suksesvol te implementeer. Die Departement sal dan die Kabinet se steun verkry en die voorgestelde aksies opneem in die regering se Mediumtermyn Strategiese Raamwerk vir insluiting in die Mediumtermyn-bestedingsraamwerk. 

Intussen is die Departement besig om sy begroting dienooreenkomstig te herprioritiseer ten einde fondse te kry om die strategiese plan in die land bekend te stel, insluitend die Parlement, provinsies, plaaslike regerings, landboubedrywe en gemeenskaps-organisasies. Vir dié doel sal die Departement op sy vennote staat maak om deel te neem en leiding te gee in hulle onderskeie gebiede. 

Ek bedank graag Agri SA se President, mnr Japie Grobler, en die National African Farmers’ Union se president, mnr Peter Rammutla, sonder wie dit onmoontlik sou wees om hierdie Presidensiële opdrag af te handel. Hulle het hulle amptenare beskikbaar gestel om by dié van die Departement aan te sluit om die Taakspan te vorm om die werk te doen. Hulle het ook Agri SA se uitvoerende direkteur, mnr Jack Raath, en NAFU se hoofamptenaar, mnr Mocks Mothabela, beskikbaar gestel om by die Direkteur-generaal, me Bongiwe Njobe, aan te sluit om toesig te hou oor die aktiwiteite van die Taakspan. 

Ek bedank ook die Adjunkminister, advokaat Dirk du Toit, die LUR’e vir Landbou, die Direkteur-generaal, me Bongiwe Njobe, en die provinsiale Hoofde van Landbou asook ander senior staatsamptenare vir hulle steun aan hierdie sektorplanproses. 

Hierdie inisiatief sou nie geslaag het nie sonder die opbouende insette van die leiers van die georganiseerde landbou in Suid-Afrika. Dit sluit in die President, mnr Japie Grobler, die Besturende Direkteur, mnr Jack Raath, en die leiers van Agri SA; die President, mnr Rammutla; mnr Teddy Matsetela en leiers van NAFU. 

Die samewerking in die Taakspan was beslis ‘n verrykende ondervinding vir elk van die volgende lede: 

Masiphula Mbongwa (Voorsitter)       Departement van Landbou
Hans van der Merwe                        Agri SA
Attie Swart                                     Departement van Landbou
Mookela (Mocks) Mothabela            NAFU
Johan van Rooyen                           Landbou Besigheidskamer
Andrew Makenete                           NAFU
Teddy Matsetela                             NAFU
Johan Pienaar                                 Agri SA 

Ek spreek ook my dank uit teenoor professor Johann Kirsten van die Universiteit van Pretoria vir die opstel van opeenvolgende konsepte van hierdie dokument aan die hand van aantekeninge van die samesprekings en instruksies van die Taakspan. Spesiale vermelding en ‘n woord van dank gaan aan Ina Goosen vir die koördinering van die vergaderings en die reëling van verversings, en aan Simon Malepeng vir die afneem van aantekeninge. 

My laaste woord van dank gaan aan die United States Agency for International Development (USAID) vir die verskaffing van fondse vir hierdie inisiatief.

Verklaring van voorneme

‘n Landbou, wat alle ekonomiese aktiwiteite insluit, van die verskaffing van boerderyinsette tot boerdery en waardetoevoeging, bly ‘n belangrike sektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie ondanks sy klein regstreekse deel van die totale bruto binnelandse produk (BBP).

Landbou verskaf voedsel en vesels om in twee van die basiese menslike behoeftes te voorsien. Die bedryf slaag deur verhoogde produktiwiteit daarin om deurlopend in hierdie behoeftes te voorsien sedert die bevolking van die land aan die begin van die 20ste eeu ‘n skamele 4 miljoen was en ook nou met ‘n bevolking van 40 miljoen. Plaaswerkers, boere en hulle gesinne dra ook tot die ekonomie by wanneer hulle hulle lone en salarisse aan verbruiksgoedere en dienste bestee of wanneer hulle insette koop vir produksie in die volgende seisoen. Op hierdie wyse word die landbou die ruggraat van groei en ontwikkeling. Die bedryf se invloed op die ekonomie is getoon deur die onlangse oorstromings wat dele van die Noordelike Provinsie en Mpumalanga in Februarie 2000 verwoes het, toe die BBP-groeikoers van die land met 1 % gedaal het.

Primêre landbou is verantwoordelik vir 4,5 % van die BBP van Suid-Afrika, en die groter agrovoedselkompleks dra nog 9% by. Daar is ongeveer 50 000 groot kommersiële boere wat hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, uit die blanke bevolking kom. In 2000 het hulle sowat R16 miljard se produkte uitgevoer, of bykans 10 % van Suid-Afrika se totale uitvoere. Hulle het ongeveer 1 miljoen werkers in diens, of ongeveer 11 % van die totale formele werkverskaffing in Suid-Afrika. Talle plaaswerkers woon op kommersiële plase en hulle kinders ontvang onderwys in plaasskole. Kommersiële plase verskaf dus ‘n heenkome en behuising vir nagenoeg 6 miljoen gesinslede van 1 miljoen werknemers en voorsien in hulle onderwysbehoeftes.

Daar is ook 240 000 kleinboere wat ‘n heenkome aan meer as 1 miljoen gesinslede bied, asook los werkgeleenthede vir nog 500 000 mense. Hulle bied plaaslike en streekmarkte waar groot getalle informele handelaars ‘n bestaan maak. Voorts is daar ‘n geraamde 3 miljoen boere, meestal in die kommunale gebiede van die voormalige tuislande, wat voedsel produseer hoofsaaklik om in hulle gesinne se behoeftes te voorsien.

Laastens is die produktiewe en sosiale aktiwiteite van landelike dorpe en dienssentrums gefokus op hulle steun vir die primêre landbou en verwante aktiwiteite soos agritoerisme en wildboerdery. Meer as die helfte van die provinsies en sowat 40 % van die land se totale bevolking is dus primêr afhanklik van die landbou en verwante bedrywe. 

As gevolg van hierdie kritieke rol van die groter landbousektor ag president Thabo Mbeki dit nodig om gereelde vergaderings te hou met ‘n werkgroep van die georganiseerde landbou om die sektor se behoeftes en posisie met betrekking tot nasionale kwessies te bepaal. Tydens een van hierdie vergaderings in Maart 2001 is die President ingelig dat die sektor gebuk gaan onder ‘n aantal beleids- en institusionele beperkings wat dit verhinder om teen volle potensiaal te funksioneer en dus optimaal by te dra tot die nasionale oogmerke van groei, mededingendheid en billikheid. Die President het die verskillende rolspelers versoek om ‘n onderlinge strategie te identifiseer wat voldoende fokus sal bied om die sektor te verenig en te laat groei. Hy het gesê hierdie gedeelde visie moet oogmerke, beleide en aksies hê wat sal lei tot groei en werklike ontwikkeling vir alle rolspelers in die sektor.

Hierdie dokument skets ‘n strategiese sektorplan vir die Suid-Afrikaanse landbou en dra by tot die welsyn van alle Suid-Afrikaners. Dit is opgestel in ‘n proses van oorlegpleging met ‘n wye verskeidenheid belanghebbendes deur die belangrike strategiese vennote, naamlik die National African Farmers’ Union, Agri SA en die Departement van Landbou. Die strategiese sektorplan het die volgende oogmerke:

Die visie vir die landbousektor is:

‘n Verenigde en voorspoedige landbousektor

Hierdie visie impliseer volgehoue winsgewende deelname aan die Suid-Afrikaanse landbou-ekonomie deur alle belanghebbendes, met erkenning van die behoefte om kommersiële produksie te handhaaf en te verhoog, om internasionale mededingendheid uit te bou en om die historiese nalatenskappe en vooroordele te hanteer wat tot ongelyke toegang en verteenwoordiging gelei het.

Ter ondersteuning van die visie vir die landbou sal die kernfokus van die strategie op die volgende strategiese doelwit wees:

Om billike toegang tot en deelname aan ‘n wêreldmededingende, winsgewende en volhoubare landbousektor te genereer, wat bydra tot ‘n beter lewe vir almal.

Die visie bied ‘n duidelike prentjie van waar die Suid-Afrikaanse landbou oor die lang termyn wil wees. Die vernaamste hindernis vir die suksesvolle implementering van hierdie strategie is die groot onbenutte potensiaal wat opgesluit is in sy mense en materiële hulpbronne, en die lae winsgewendheid en mededingendheid wat die deelname van ‘n volle spektrum van mense en ekonomiese entiteite aan bande lê. Hierdie probleem vind neerslag in ‘n aantal subprobleme—wat elk sy eie uitdagings bied.

BEPERKTE MEDEDINGENDHEID EN LAE WINSGEWENDHEID

Die aanduidings is dat die Suid-Afrikaanse landbousektor positief reageer op die uitdaging van groter mededingendheid. Daar bestaan egter ook tekens dat sommige subsektore van die landbou en waardetoevoegingsaktiwiteite onmededingend in die plaaslike en internasionale mark is. Dit is die gevolg van verskeie oorsake, insluitend hoë insetkoste gekombineer met lae produktiwiteit, swak sakestrategieë en ondoeltreffendheid, asook onbillike handelspraktyke deur ons mededingers, ens. Die gebrek aan internasionale mededingendheid lei ook tot lae winsgewendheid en subnormale opbrengste in die sektor, wat weer verantwoordelik is vir lae investering in sekere bedrywe. Dit is moontlik die grootste uitdaging wat die hoof gebied moet word ten einde die landbou op die pad van sterk groei te plaas soos wat beoog word.

SKEEFGETREKTE  DEELNAME

As gevolg van die nalatenskap van uitsluiting en diskriminasie in die Suid-Afrikaanse landbou is die uitdaging nou om deelname aan alle fasette van die sektor te verbeter en eens en vir altyd ontslae te raak van die talle hindernisse vir toetrede wat in die historiese dualisme gewortel is. Die uitdaging is veral om programme te identifiseer wat nuwe toetreders—swart en wit; jonk en oud; mans en vroue; klein- en mediumskaalse ondernemings—sal aanmoedig om tot die sektor toe te tree. Dit is belangrik om maniere te kry om te verseker dat al hierdie verskillende elemente van die sektor werklik voel en hulself beskou as behorende tot ‘n enkele entiteit.

LAE BELEGGERSVERTROUE IN DIE LANDBOU

Die swak beleggersvertroue in die landbou word veroorsaak deur die lae opbrengste asook definitiewe en hardnekkige ekonomiese en maatskaplike probleme wat ‘n uitwerking het op investering en produksie, soos die golf van plaasmoorde, uitsettings en onwettige okkupasies. Beleggersvertroue is nodig ten einde ‘n lewendige en groeiende landbousektor te vestig.

ONTOEREIKENDE, ONDOELTREFFENDE EN ONDOELMATIGE STEUN- EN LEWERINGSTELSELS

Die gebrek aan lewering en implementering van ‘n wye verskeidenheid owerheidsmaatreëls, regulasies en programme asook ondoeltreffende steunstelsels—wat almal baie belangrik is om ‘n bemagtigende omgewing vir die landbou te verseker— is ‘n groot probleem en ‘n uitdaging aan alle regeringsagentskappe wat die landbousektor steun. Aspekte wat tot hierdie probleem bydra, is die fragmentasie van sekere dienste, ontoereikende hulpbronne, swak bestuur en verantwoordbaarheid asook swak uitvoerende besluite en dikwels lang vertragings met die neem van besluite.

SWAK EN ONVOLHOUBARE BESTUUR VAN NATUURLIKE HULPBRONNE

Suid-Afrika het nie ‘n oorvloed ongebruikte grond van hoë en medium potensiaal nie, en daar is ‘n perk op die horisontale uitbreiding van landbouproduksie. Voorts is die infrastruktuur en dienste om volhoubare grondgebruik te steun, ontoereikend. Staatsprogramme (soos LandCare en Werk vir Water) gemik op die beskerming van die hulpbronbasis is suksesvol maar ontoereikend. Die agteruitgang van grond bly ‘n probleem op goeie en marginale grond. Met toenemende druk op die landbou om uitset per grondeenheid te verhoog, is dit ‘n groot uitdaging om te verseker dat dit nie tot nadeel van ons natuurlike hulpbronbasis geskied nie.

Om die uitdagings die hoof te bied en die visie te verwesenlik, sal die strategiese plan uit drie kernstrategieë bestaan, naamlik:

Sommige elemente van die kernstrategieë is aanvullend en sal bydra tot die skepping en herstel van vertroue in die landbou. Met dit in gedagte is die volgende noodsaaklike ondersteunende en bemagtigende strategieë, wat dwarsliggend oor die kernstrategieë is, geïdentifiseer:

Hierdie aanvullende strategiese oogmerke is uiters belangrik omdat hulle die kritieke fondament verskaf waarsonder die strategiese doel van ‘n mededingende, inklusiewe en volhoubare landbou nie verwesenlik sal word nie. Dit beklemtoon ook die afhanklikheid van die sektor van die steun van ander groepe staatsdepartemente en bedrywe.

Die visie van ‘n verenigde en voorspoedige landbousektor vereis van vennote om aksieplanne, sleutelprestasieaanwysers, diensleweringstandaarde, monitering- en evalueringstelsels en tydraamwerke te hê ten einde die doelwitte van die strategiese sektorplan te bereik. Dit vereis ook dat die Regering dinge anders doen—met meer spoed en dringendheid en in vennootskap met boere, agribesighede, NRO’s en ander staatsdepartemente.

Die gedetailleerde aksieplanne van hierdie strategiese plan gaan opgestel word deur al die vennote wat die verantwoordelikheid vir die implementering daarvan op hulle geneem het. Wat in hierdie dokument geskets word, is die strategiese raamwerk, prioriteitsprogramme, gesamentlike implementeringsorgane en voorsiening vir gemeenskaps-openbare-private vennootskappe. Vir dié doel sal die hoofvennote, naamlik die Departement van Landbou, Agri SA en NAFU, die permanente gesamentlike komitee stig. Stappe word reeds gedoen om die georganiseerde arbeid, NRO’s, gemeenskapsgebaseerde organisasies en buitelandse organisasies te betrek.

As ‘n eerste stap om die strategiese plan nader aan implementering te bring, het die strategiese vennote die volgende prioriteitsprogramme en aksies geïdentifiseer:

In dit alles word die waardevolle rol van die private sektor om die oogmerke van deelname, mededingendheid en volhoubaarheid te verwesenlik, erken. Gevolglik sal alles gedoen word om groter samewerking en koördinasie tussen die staat en die private sektor – wat boere, boereverenigings en agribesighede impliseer – te verseker, ten einde die nuwe visie van ‘n verenigde en voorspoedige landbousektor te verwesenlik.

Die volgende uitkomste word uit die suksesvolle nastrewe van hierdie strategiese oogmerke verwag:

Die vennote verbind hulle daartoe om die nodige tyd en finansiële en materiële hulpbronne te verskaf om die suksesvolle implementering van die strategiese plan te verseker.

Daar is ‘n duidelike verstandhouding en besef dat ‘n nuwe hoofstuk vir die landbou in Suid-Afrika, die SAOG-substreek en die vasteland van Afrika geopen word.

Geteken

MINISTER: LANDBOU EN GRONDSAKE

 

PRESIDENT: AGRI SA                                              PRESIDENT: NAFU

 

 


1. Inleiding

In sy Staatsrede op 9 Februarie 2001 het president Thabo Mbeki aangedui dat hoewel ‘n balans en stabiliteit op makrovlak bereik is, die groeikoers van die ekonomie nog te laag is. In sy rede het die President ‘n aksieplan aangekondig om –

Die President het aangedui dat hierdie oogmerke die beste bereik kan word deur spesiale aandag binne die Geïntegreerde Staatsbeplanningsraamwerk aan ekonomiese sektore met ‘n hoë potensiaal vir groei en werkskepping. Hy het die landbou, energie, toerisme, kultuurbedrywe, sekere uitvoersektore (insluitend agroverwerking) en die inligting- en telekommunikasiebedryf uitgesonder.

Die landbousektor, wat omskryf word as alle aktiwiteite rakende die verskaffing van landbou-insette, primêre produksie en die verwerkings- en verspreidingsaktiwiteite wat waarde tot boerderyprodukte voeg, bly ‘n belangrike sektor van die Suid-Afrikaanse ekonomie ondanks sy klein regstreekse aandeel van die totale bruto binnelandse produk (BBP).

Die landbousektor verskaf in twee van die basiese menslike behoeftes, naamlik voedsel en vesel, en het sterk ekonomiese en werkverskaffingskakels met die ander sektore van die ekonomie, en daardeur lewer dit ‘n wesenlike bydrae tot ekonomiese groei. Die sektor slaag daarin om in hierdie behoeftes te voorsien deur verhoogde produktiwiteit sedert die land se bevolking aan die begin van die 20ste eeu net 4 miljoen was en ook nou met ‘n bevolking van 40 miljoen. Die landbou is dus ‘n ruggraat van groei en ontwikkeling in Suid-Afrika omdat dit ‘n sterk fondament en steun bied vir ander sektore van die ekonomie. Die sektor se invloed op die ekonomie is getoon deur die onlangse oorstromings wat dele van die Noordelike Provinsie en Mpumalanga in Februarie 2000 verwoes het, toe die BBP-groeikoers met ongeveer 1 % gedaal het.

Die primêre landbou, wat bestaan uit produksie binne die plaasgrense, lewer minder as 5 % van die BBP van Suid-Afrika op. Die agrovoedselkompleks, wat bestaan uit primêre produksie plus die inset- en agroverwerkingsektore, is verantwoordelik vir ongeveer 14 % van die BBP. Daar is nagenoeg 50 000 grootskaalse kommersiële boere, wat hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, uit die blanke bevolking kom. In 2000 het hulle ongeveer R16 miljard se produkte uitgevoer, of bykans 10 % van Suid-Afrika se totale uitvoere. Hulle het ongeveer 1 miljoen werkers in diens, wat 11 % van die totale werkverskaffing in die formele sektor in die land is. Baie van hierdie werkers woon op kommersiële plase en hulle kinders ontvang onderwys in plaasskole. Kommersiële plase bied dus ‘n heenkome en behuising aan ongeveer 6 miljoen gesinslede van hierdie
1 miljoen werknemers en voorsien in hulle onderwysbehoeftes.

Daar is ook 240 000 kleinboere wat ‘n heenkome bied aan meer as 1 miljoen van hulle gesinslede, asook los werkgeleentheid vir nog 500 000 mense. Hierdie boere lewer aan plaaslike en streekmarkte waar groot getalle informele handelaars ‘n bestaan maak. Verder produseer ‘n geraamde 3 miljoen bestaansboere wat meesal in die kommunale gebiede van die voormalige tuislande geleë is, hoofsaaklik om in ‘n deel van hulle gesinne se totale behoeftes te voorsien. Laastens is feitlik al die produktiewe en sosiale aktiwiteite van landelike dorpe en dienssentrums afhanklik van primêre landbou en verwante bedrywighede. Dit sluit in die toenemend gewilde en ekonomies belangrike agrotoerisme- en wildboerderyaktiwiteite. Meer as die helfte van die provinsies en ongeveer 40 % van die land se totale bevolking is dus hoofsaaklik van die landbou en verwante bedrywe afhanklik.

Hierdie strategiese plan is op versoek van die President deur die Departement van Landbou, Agri SA en NAFU ontwikkel om die gunstige omgewing te omskep in oogmerke, beleide en aksies wat sal lei tot groei en ontwikkeling vir alle rolspelers in die sektor. Hierdie versoek was ‘n regstreekse uitvloeisel van die vergadering van die Presidensiële landbouwerkgroep in Maart 2001, waar die President die belanghebbendes uitgedaag het om ‘n gemeenskaplike strategie te identifiseer wat op die vereniging en groei van die sektor sal fokus.

n Aantal strategiese vennote is betrokke by die ontwikkeling en implementering van die strategiese sektorplan. Dit sluit in die staat, boere, agribesigheid, agridiensorganisasies, die georganiseerde arbeid, gemeenskapsgebaseerde verenigings en buitelandse organisasies. Hulle is almal belangrike rolspelers en kliënte van die strategiese plan, wat ontwerp is om die uiteindelike kliënt—die mense van Suid-Afrika—te dien om die doelwit van ‘n beter lewe vir almal te verwesenlik.

Hoewel die kwessie van die georganiseerde arbeid kritiek is vir die sukses van die landbou, is dit nie spesifiek bespreek in die dokument nie omdat die meeste van die kwessies aandag geniet het in die onlangs voltooide Gedeelde visie oor plaasarbeid. Die sake-gedeelte in hierdie dokument maak ‘n integrerende deel uit van die implementering van hierdie strategiese sektorplan.

Die proses van die ontwikkeling van die Strategiese Plan is voorafgegaan deur ‘n aantal regeringsdokumente en ander strategieë. Dit alles het ‘n nuttige raamwerk gevorm waarbinne die landbousektorstrategie gevorm is en het die volgende ingesluit:

In die volgende afdeling word die visie vir die landbousektor ontwikkel en verfyn. Afdeling 3 laat val dan die kollig op die huidige situasie in die sektor, wat in Afdeling 4 help om die uitdagings vir die verwesenliking van die visie te identifiseer. Die uitdagings vir die sektor lei tot drie kernstrategieë, wat in Afdeling 5 in besonderhede bespreek word. Die drie kernstrategieë kan nie in afsonderlik funksioneer nie en is afhanklik van vyf aanvullende strategieë, wat in Afdeling 6 bespreek word, wat in effek die grondslag vorm vir die verwesenliking van die strategiese doel. Afdeling 7 bespreek die “hoe” van die strategiese plan deur die kollig te laat val op die prioriteitsprogramme en die strukture en prosesse vir implementering.


2. Die visie vir die Suid-Afrikaanse landbou

Die konteks en uitdagings wat die President gestel het asook die basiese uitgangspunte en waardes van die nuwe Suid-Afrikaanse samelewing bepaal die visie vir die landbousektor. Hierdie visie is:

‘n Verenigde en welvarende landbousektor

Die visie omskryf ‘n verenigde sektor wat bedien word deur ‘n eenduidige beleidsraamwerk wat ontwerp is om die inherente dualisme te oorbrug en om die bydrae van die sektor tot ekonomiese groei en ontwikkeling te maksimeer.

Hierdie visie impliseer volgehoue winsgewende deelname aan die Suid-Afrikaanse landbou-ekonomie deur ‘n volle spektrum van ekonomiese entiteite, met behoorlike inagneming van die belangrikheid van voortgesette kommersiële produksie asook die werklikheid van die historiese nalatenskappe en vooroordele wat tot ongelyke toegang en verteenwoordiging gelei het. Die visie erken die verskeidenheid van die sektor en is daarop gemik om ‘n plek en rol vir alle boere in ‘n verenigde sektor te verseker. So ‘n fokus word as gepas beskou vir die huidige stand van ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse nasie en sal die grondslag skep om alle groepe van hierdie histories verdeelde samelewing te akkommodeer en te aktiveer, naamlik klein, medium en groot ondernemings en historiese benadeelde groepe (bedoelende ras, geslag en jeug) kategorieë.

Ter ondersteuning van die visie vir die landbou sal die kernfokus van die strategiese sektorplan ingestel wees op die volgende strategiese doelwit:

Om billike toegang tot en deelname aan ‘n wêreldmedededingende, winsgewende en volhoubare landbousektor te genereer, wat bydra tot ‘n beter lewe vir almal.

Hierdie strategiese doelwit sal al die tersaaklike sosiale vennote lei in hulle pogings om ‘n verskeidenheid strategieë en programme te lewer. Hierdie programme sal gegenereer en geïmplementeer word in ooreenstemming met die volgende basiese uitgangspunte en waardestellings:

Die volgende uitkomste sal na verwagting voortvloei uit die suksesvolle strewe na die strategiese oogmerke:


3 Die huidige werklikheid van die Suid-Afrikaanse landbou

Suid-Afrika word gekenmerk deur hoë vlakke van armoede, veral in die landelike gebiede, waar nagenoeg 70% van Suid-Afrika se arm mense woon. Hulle inkomste word aan bande gelê omdat die landelike ekonomie nie lewenskragtig genoeg is om hulle van besoldigde werkgeleenthede of geleenthede vir selfemplojering te voorsien nie.

Daar is baie redes vir hierdie toedrag van sake, maar die meeste hiervan spruit voort uit beleide wat in die verlede toegepas is. Hoewel natuurlike toestande soos klimaatsveranderlikheid belangrike risiko- en kostefaktore in die boerdery is, het ongekoördineerde beleide en die onbedoelde gevolge van beleide in die verlede ook bygedra tot suboptimale groei en investering in die sektor. As landelike gebiede ‘n grondslag gehad het wat groter verdien- en besteevermoë gesteun het, sou die landelike ekonomie sterker gewees het, gegroei het en meer geleenthede vir lone en selfemplojering geskep het. Daar kan dus aangevoer word dat as die Suid-Afrikaanse ekonomie in die verlede ‘n ander, arbeidsintensiewe, inklusiewe en nie-diskriminerende roete van ontwikkeling en vestiging gevolg het, landelike armoede nie so ‘n alomteenwoordige eienskap van ons huidige samelewing en ekonomie sou gewees het nie.

Ekonomieë groei gewoonlik deur menslike en kapitaalhulpbronne uit die primêre sektore (landbou, mynbou) eers na die nywerheidsektor en later na die dienstesektor te verskuif. Dit was ook die geval in Suid-Afrika, waar die oorgang na ‘n na-industriële era reeds goed aan die gang is. En tog is daar bewyse dat die primêre sektore (soos die landbou) in hierdie proses óf nie daarin geslaag het om hulle volle potensiaal te verwesenlik nie, óf dit op ‘n verwronge wyse gedoen het, wat meegebring het dat groot getalle mense uitgesluit is van die voordele van modernisering.

Die kommersiële landbou in Suid-Afrika het ‘n meer kapitaalintensiewe groeipad gevolg, terwyl beduidende landbouhulpbronne (mense en materiaal) ongebruik of onderbenut lê in die voormalige tuislande. Albei hierdie verskynsels het ‘n uitwerking op die inkomsteverdienpotensiaal van landelike mense. Verder is die ondernemersvermoëns van swart boere onderdruk, eers deur hulle uitsluiting van die kommersiële grondmark en toe omdat kommersieel beskikbare vrypagboerdery feitlik onmoontlik was in die voormalige tuislandgebiede. Werkgeleenthede in die kommersiële landbou was en is grootliks beperk tot ongeskoolde werkers wat lae lone verdien, en ‘n groot deel van die totale werkverskaffing in die kommersiële landbou is net van seisoenale en tydelike aard. Verder beteken hierdie groeipad dat preprimêre bedrywe (insetmaatskappye) en sekondêre bedrywe (verwerkers van voedsel en vesel) wat met die landbou verband hou, belemmer is, waardeur landelike mense van ekonomiese geleenthede ontneem is.

Hierdie faktore was grootliks verantwoordelik vir die skepping van die groot dualisme en ongelykheid in die landbou. Hierdie dualisme het ‘n polarisasie van ‘ons’ en ‘hulle’ tussen deelnemers geskep en het gelei tot ‘n benadering tot beleidbepaling en dienslewering wat fokus op twee landbousektore eerder as een verenigde sektor – een vir kommersiële boere en een vir sogenaamde ‘opkomende boere’. Daar bestaan dus ‘n algehele gebrek aan ‘n gemeenskaplike (‘ons’) visie en begrip in die landbou en min gevoel van samehorigheid en eenheid. Hierdie strategiese sektorplan is bedoel om dié verdelende en nadelige benadering te beëindig.

Sedert 1990 het verskeie prosesse plaasgevind om diskriminerende wetgewing om te keer en om deelname te verbeter, terwyl verskeie ander inisiatiewe terselfdertyd geïmplementeer is om die sektor te dereguleer en te liberaliseer. Sommige van hierdie aksies het positiewe resultate opgelewer, terwyl ander onbeplande gevolge gehad het.  Die vernaamste beleidsverskuiwings in dié verband sluit die volgende in:

·         Deregulering van die bemarking van landbouprodukte

·         Veranderinge in die fiskale behandeling van die landbou, insluitend die afskaffing van sekere belastingtoegewings wat die sektor bevoordeel het

·         ‘n Vermindering in regstreekse begrotingsbesteding aan die sektor

·         Grondhervorming, bestaande uit die programme vir restitusie, herverdeling en grondbesithervorming

·         Hervorming van handelsbeleid, wat insluit die tariefering van landbouprodukte en ‘n algemene liberalisering van landbouhandel, insluitend vryhandelsooreenkomste

·         Institusionele hervorming wat die bestuur van die landbou raak

·         Die toepassing van arbeidswetgewing op die landbousektor

Hierdie veranderinge het belangrike gevolge gehad wat oor die algemeen gelei het tot groter produktiwiteit en tot ‘n meer mededingende landbousektor, hoewel baie boere meer kwesbaar vir internasionale skokke, onstabiele weerstoestande, ‘n verslegtende skuldsituasie en ‘n verswakkende ruilvoet geword het. Dit, tesame met nuwe wetgewing oor arbeid, water en grondhervorming, het gelei tot ongelyke persepsies rakende die oogmerke van hierdie wetgewing, groter verwagtinge van arbeid, en openbare verklarings deur verskeie drukgroepe. Dit het bygedra tot ‘n negatiewe reaksie onder kommersiële boere en ‘n afname in die getal voltydse werknemers op plase.

Die vinnige proses van deregulering en liberalisering die afgelope dekade het ook die beperkte vermoë van talle boere getoon om by beleids- en markveranderinge aan te pas. Groter blootstelling aan internasionale mededinging het ‘n negatiewe uitwerking op hulle mededingendheid, wat veroorsaak dat talle boere die bedryf verlaat. In hierdie baie meer mededingende en oop ekonomie sneuwel kleinboerstelsels dikwels, of vind hulle dit moeilik om deel van die hoofstroomlandbou te word.

Ofskoon ‘n aantal knelpunte en probleemgebiede die landbousektor verhinder om teen sy volle potensiaal te funksioneer, is dit net ‘n deel van die prentjie. Daar is positiewe aanduidings dat sommige boere goed vaar onder huidige omstandighede. Dit is ook duidelik dat daar ‘n goeie grondslag en ‘n positiewe gesindheid en gewilligheid onder boere, agribesighede en die staat is om die volgende uitdagings die hoof te bied en dit in geleenthede te omskep.


4 Sektoruitdagings

Uit die voorafgaande bespreking kan die vernaamste probleme en uitdagings vir die sektor geïdentifiseer word. Die vernaamste uitdaging vir die Suid-Afrikaanse landbou is om die onbenutte potensiaal te ontsluit wat in sy mense opgesluit lê, asook die lae winsgewendheid en mededingendheid wat die deelname van ‘n volle spektrum van mense en ekonomiese entiteite verhinder. Hierdie probleem word gemanifesteer in ‘n aantal subprobleme—wat elk sy eie uitdagings bied.

BEPERKTE WÊRELDMEDEDINGENDHEID EN LAE WINSGEWENDHEID

Die aanduidings is dat die Suid-Afrikaanse landbousektor positief reageer op die uitdagings van groter mededinging. Die vordering bly egter gedeeltelik, en daar is tekens dat sommige subsektore van die landbou en waardetoevoegingsaktiwiteite onmededingend is in die plaaslike en die internasionale mark. Dit word veroorsaak deur faktore soos hoë insetkoste gekombineer met lae produktiwiteit, suboptimale sakestrategieë en ondoeltreffendheid, asook onbillike handelspraktyke. Die gebrek aan internasionale mededingendheid lei ook tot lae investering in sekere subsektore. Dit is miskien die grootste uitdaging wat die hoof gebied moet word om die landbou op die beoogde pad van hoë groei en ontwikkeling te plaas.

SKEEFGETREKTE DEELNAME

In die lig van uitsluiting en diskriminasie is die uitdaging nou om die talente en skeppende energie van mense te ontsluit en hulle deelname aan alle aspekte van die sektor te verbeter en eens en vir altyd ontslae te raak van die talle hindernisse vir toetrede wat in die historiese dualisme gewortel is. Die uitdaging is om programme te identifiseer om nuwe toetreders—swart en wit; oud en jonk; mans en vroue; klein en medium ondernemings—aan te moedig om tot die sektor toe te tree. Laastens is dit belangrik om maniere te kry om te verseker dat al hierdie verskillende elemente van die sektor werklik voel dat hulle tot ‘n enkele entiteit behoort en hulself as sodanig beskou.

LAE BELEGGERSVERTROUE IN DIE LANDBOU

Die swak beleggersvertroue in die landbou word veroorsaak deur die gemelde lae opbrengste asook die definitiewe en hardnekkige ekonomiese en maatskaplike impak op investering en produksie van faktore soos plaasmoorde, uitsettings en onwettige besettings. Verder is daar negatiewe persepsies oor die landbou, wat die situasie vererger. Beleggersvertroue is nodig ten einde ‘n lewendige en groeiende landbousektor te verkry.

ONTOEREIKENDE, ONDOELTREFFENDE EN ONDOELMATIGE STEUN- EN LEWERINGSTELSELS

Hierdie aspek is een van die sleutelprobleemgebiede onderliggend aan elk van gemelde probleemgebiede. Die swakheid van lewering en implementering van ‘n wye verskeidenheid maatreëls, regulasies en programme van die owerheid asook ondoeltreffende steunstelsels—wat van kritieke belang is om ‘n bemagtigende omgewing vir die landbou te verseker—is ‘n groot probleem en ‘n uitdaging vir alle staatsentiteite wat die landbousektor ondersteun. Aspekte wat bydra tot hierdie probleem, is die fragmentering van sekere dienste, ontoereikende hulpbronne, swak bestuur en verantwoordbaarheid asook swak uitvoerende besluite en dikwels lang vertragings met die neem van besluite.

SWAK EN ONVOLHOUBARE BESTUUR VAN NATUURLIKE HULPBRONNE

Onbenutte grond met goeie potensiaal is baie skaars in Suid-Afrika, en daar is ‘n perk op die horisontale uitbreiding van landbouproduksie. Voorts is die infrastruktuur en dienste om volhoubare grondgebruik te steun, ontoereikend. Staatsprogramme (soos LandCare en Werk vir Water) gemik op die beskerming van die hulpbronbasis is suksesvol maar ontoereikend. Die agteruitgang van grond bly ‘n probleem op goeie en marginale grond. Met toenemende druk op die landbou om uitset per grondeenheid te verhoog, is dit ‘n groot uitdaging om te verseker dat dit nie tot nadeel van ons natuurlikehulpbronbasis geskied nie.


5 Kernstrategieë

Die uitdagings wat geïdentifiseer is, moet met groot dringendheid die hoof gebied word om die landbousektor in staat te stel om van sy huidige werklikheid te beweeg na die strategiese doelwit van “billike toegang en deelname aan ‘n wêreld-mededingende, winsgewende en volhoubare landbousektor wat bydra tot ‘n beter lewe vir almal”. Hierdie doelwit moet bereik word deur ‘n strategiese plan vir die Suid-Afrikaanse landbou bestaande uit drie belangrike elemente, naamlik billike toegang en deelname, wêreldmededingendheid en winsgewendheid, en volhoubare hulpbronbestuur.

5.1            Strategie vir billike toegang en deelname

Die oogmerke van hierdie strategie is om billike toegang tot en deelname aan landbougeleenthede te bevorder; om die eienaarskap van grond en ondernemings nie-rassig te maak; en om die volle ondernemerspotensiaal in die sektor te ontsluit. Die fokus sal wees op grondhervorming, hulppakkette vir nuwe toetreders tot boerdery, vennootskappe en bevordering van die sektor.

Hierdie strategie hanteer die historiese dualisme en prosesse van uitsluiting, en moedig die voortgesette deelname aan van diegene wat reeds deel van die sektor is. Dit bevorder ook die ontwikkeling van ‘n gedeelde visie en gemeenskaplike strategie vir ‘n inklusiewe en diverse landbousektor, wat die hele spektrum van ondernemings en plaasgroottes sal dek, van heel klein tot baie groot. Die staat sal in hierdie verband ‘n raamwerk vestig vir vennootskappe om hierdie kernstrategie te implementeer. Die tekens van goeie stewige vennootskappe en mentorskap wat besig is om tussen bestaande kommersiële boere en nuwe toetreders te ontwikkel, sal aangemoedig word.

Volgehoue deelname aan die sektor sal gewaarborg word slegs wanneer die negatiewe persepsie van die landbou, soos gekenmerk deur lae winsgewendheid, skuld, sekuriteitsprobleme, verbruikersprobleme met voedselveiligheid, legitimiteitskwessies en stadige transformasie verdryf word—’n sektor waarin mense geen vertroue en trots het nie. Die stereotipe van boerdery is dat dit oorheers word deur Afrikanermans tesame met ‘n oordrewe gevoel van bedreiging, marginalisering en verwaarlosing onder bestaande en voornemende boere. Nog ‘n boerderystereotipe is dat swart mense niks bo die sosiale klas van arm bestaansboere kan of behoort te word nie. Hierdie opvattings sal teengewerk word slegs as persepsies in en oor die landbou verander en vervang word deur die begrip van ‘n lewendige, suksesvolle en verteenwoordigende landbousektor, wat ook aandag gee aan verbruikers se besorgdheid oor die omgewing en voedselveiligheid.

Om nuwe toetreders tot die landbousektor te bevorder, sal die fokus noodwendig wees op ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe gerig op: swart mense, vroue, gestremde persone en op die jeug van alle rasse. Die proses om swart Suid-Afrikaners in staat te stel om suksesvol te wees in kommersiële boerdery en agribesighede, sal goed ontwerpte en geteikende pogings verg om die speelveld gelyk te maak en om ‘n meer verteenwoordigende en diverse sektor teweeg te bring. Hierdie pogings sal ontwerp word om ‘n gediversifiseerde en doeltreffender landbousektor op te lewer, wat die dryfkrag vir ‘n groeiende landelike ekonomie sal verskaf, sonder om bestaande kommersiële boere te penaliseer.

GRONDHERVORMING

As ‘n eerste stap is dit belangrik om grondhervorming doeltreffend te hanteer ten einde landelike stabiliteit en marksekerheid te verseker. Die proses van ekonomiese bemagtiging in die Suid-Afrikaanse landbou begin met beter toegang tot grond en die vestiging van veilige besitregte in mense en in gebiede waar dit nie bestaan nie.

Om grondhervorming doeltreffend te hanteer is dit belangrik dat alle maniere van toegang tot grond soos restitusie, herverdeling en besithervorming toereikende aandag ontvang. Hierdie prosesse sal grondgebruike vir nie-landboudoeleindes soos behuising, ensovoorts insluit, maar dit moet nie die fokus van die strategiese sektorplan word nie.

Na die trae vordering met die implementering van grondherverdeling in die eerste vyf jaar na 1994 is die program herontwerp. Die nuwe Program vir Grondhervorming vir Landbou-ontwikkeling (PGLO) is ontwerp om die verskeidenheid steunmaatreëls uit te brei wat vir voorheen benadeelde Suid-Afrikaanse burgers beskikbaar sal wees om toegang tot grond te kry spesifiek vir landboudoeleindes. Dit versterk die filosofie van markgesteunde grondhervereling van die vroeëre grondhervormingsprogram. Internasionale ondervinding toon dat markgebaseerde programme vir grondherverspreiding wat deur die staat gelei word, beter presteer as programme wat uitsluitlik deur die owerheid bedryf word. Die herontwerpte program het die potensiaal om die lewering van grond te bespoedig, omdat dit ‘n verenigde en eenvoudige program is en gedryf word deur bevoordeeldes wat dit op buigsame wyse kan gebruik volgens hulle oogmerke en hulpbronne.

Die Regering is daartoe verbind om die sukses van hierdie program te verseker en om te verseker dat individue uit benadeelde groepe op ‘n spoedige en ordelike wyse toegang tot grond verkry. Dit is egter belangrik dat grond produktief gebruik moet word. Dit sal gebeur slegs as ander steundienste asook opleidingsprogramme verskaf word. Daar word dus erken dat grondhervorming en die vestiging van boere nie in ‘n vakuum kan plaasvind nie en dat provinsiale departemente van landbou en plaaslike regerings ‘n belangrike rol sal moet speel om bevoordeeldes by te staan. Dit sal vereis dat die kapasiteitsprobleme van provinsiale en plaaslike regerings as ‘n kwessie van dringendheid aandag moet geniet.

Alle moontlike opsies om snelle en volhoubare grondhervorming te verseker, sal uitgeoefen word. Dit sal behels die verkoop van landbougrond in staatsbesit as die eerste gebied om die aandag op te fokus. Dit sal aangevul word deur maatreëls soos aandeledeelskemas, kontrakboerdery, huurboerdery, grondbesithervorming in kommunale gebiede en die private verkryging van grond.

Omdat die meeste van die landelike arm mense op kommunale grond woon en boer, moet kwessies van sekerheid van besit dringend aandag kry. Dit is van kritieke belang om beter aansporings en belegingsgeleenthede in hierdie gebiede te verskaf. Aangesien dit ‘n sensitiewe aangeleentheid is, sal ‘n proses van deurlopende gesprek met tradisionele owerhede gevolg word om die sukses van hierdie proses te verseker. Dit sal gepaard gaan met die rehabilitasie van besproeiingskemas in die voormalige tuislandgebiede en die oordrag van die bestuur en eienaarskap daarvan na gekwalifiseerde boere en gemeenskappe.

Ofskoon grondhervorming die kritieke vertrekpunt is om breedgebaseerde deelname aan die landbouhoofstroom te verseker, moet ‘n aantal steundienste terselfdertyd aandag kry om te verseker dat die proses van toegang en bemagtiging suksesvol en volhoubaar is.

STEUNDIENSTE

Hoewel heelwat institusionele energie en fondse die afgelope sewe jaar aan die verskaffing van toegang tot grond vir nuwe toetreders tot boerdery bestee is, het steunprogramme vir boere minder aandag gekry. Tot dusver is steun na hervestiging aan deelnemers aan die grondhervormingsprogramme op ‘n ad hoc-grondslag georganiseer, met die gevolg dat die impak daarvan ten beste net gedeeltelik was. Terselfdertyd het steundienste vir boere in die voormalige tuislandgebiede feitlik in duie gestort.

Daar is twee uitdagings rakende steundienste nadat vestiging gedoen is. Eerstens, as nuwe boere bemagtig moet word om ‘n konstruktiewe rol in die ontwikkeling van die landbou te speel, moet hulle toegang tot steundienste hê. Ondervinding uit Afrika toon egter dat dit nie op ‘n ad hoc en diskriminerende grondslag gedoen moet word nie. Navorsing toon ook dat steundienste vir klein en medium boere nie geskei moet word van dié wat aan groot kommersiële boere gelewer word nie. Die eerste uitdaging is dus om die bestaande steundienste te verbeter en uit te brei om in die behoefte van alle boere te voorsien. Dit sluit in die voortsetting van ‘n verskeidenheid deurlopende aktiwiteite soos die versterking van diensleweringsinstellings vir navorsing, finansiële dienste, marktoegang en ‑ontwikkeling, opleiding en vaardigheidsontwikkeling en provinsiale departemente van landbou.

Die tweede uitdaging is om geteikende steun aan nuwe boere te verleen. Drie sleutelinisiatiewe sal in dié verband onderneem word:

Die vernaamste belanghebbendes in die sektor moet onderneem om hulle aandag te fokus op hierdie steunprogramme vir boere om ‘n inklusiewe ‘ons’-landbou-oriëntering te skep deur onder andere vennootskapprogramme, strategiese werksessies en gesamentlike ondernemings op die volgende gebiede te bevorder:

Groter deelname aan die landbou sal gesteun word deur programme om nuwe toetreders te help met infrastruktuur op die plaas. Voorbeelde sluit in steun vir omheining, diptenks, kontoere, grondbewaringswerke, en finansiering van die aankoop van lewende hawe en boorgate.

Kollektiewe optrede is in baie opsigte logies om boere te bemagtig. Deur saam te werk, identifiseer boere onderlinge behoeftes en konsolideer hulle eise, voeg hulle ekonomiese kragte saam en hanteer hulle markmislukkings. Die regering sal dus boereverenigings steun om hulle eie kapasiteit uit op te bou en om interne kommunikasiemeganismes te ontwikkel. In hierdie verband sal ‘n sterker vennootskap tussen NAFU en Agri SA aangemoedig word as ‘n kragtige middel om alle boere te bemagtig.

Landboukoöperasies in Suid-Afrika is ‘n belangrike struktuur om nuwe boere te ondersteun. Bestaande koöperasies kan ‘n belangrike rol speel, maar die vestiging van koöperasies in arm landelike gebiede moet ook aangemoedig word. Vroeëre pogings in dié verband het misluk as gevolg van swak etiek en waardes onder lede en die bestuur, en ook as gevolg van ‘n gebrek aan bestuurskapasiteit en bestuursvaardighede, wat tot swak sakepraktyke gelei het. Nuwe maatreëls sal getref word om die ontwikkeling van nuwe koöperasies te inisieer deur kapasiteitbou en verantwoordelike finansiële ondersteuningsmaatreëls.

Daar is ‘n algemene gebrek aan infrastruktuur in die voormalige tuislandgebiede, terwyl daar talle oproepe gedoen vir opgradering en instandhouding in voormalige blanke landelike gebiede. Dié gebreke lei daartoe dat hierdie gebiede onmededingend word. Om hierdie infrastrukturele ongelykheid en oproepe vir beter dienslewering die hoof te bied, sal provinsiale departemente van landbou en plaaslike owerhede versoek word om infrastruktuurgapings na te gaan en te verseker dat ‘n gekoördineerde lys vir infrastruktuurontwikkeling in die geïntegreerde ontwikkelingsplanne opgestel word. Dit sal insluit dat aandag gegee word aan landelike dorpe en dienssentrums. Die landbou sal ingesluit word by die fokus van die geïdentifiseerde plaaslike nodusse wat voorrang geniet.

Moderne boerdery het verander as gevolg van ekonomiese druk. Boere maak gebruik van kostebesparende maatreëls soos diversifisering, ekstensifisering en waardetoevoeging as maniere om dalende winsmarges die hoof te bied. Hierdie strategieë impliseer dikwels oorskakeling na veel groter bedrywighede. Die veranderende aard van boerdery beteken ook dat daar ‘n implisiete toetreehindernis is vir talle potensiële nuwe toetreders tot boerdery. Om hierdie ekonomiese uitdagings die hoof te bied, sal nuwe innoverende maatreëls ontwerp word om dit vir mense moontlik te maak om onder die huidige toestande tot die bedryf toe te tree.

Hoewel verskeie rolle geoormerk is vir die Regering in die strategie vir toegang en deelname, is dit belangrik om daarop te let dat die private sektor—agribesighede, boere, koöperasies, boereverenigings—’n baie belangriker rol het om bemagtiging en deelname te bevorder. Dit is nou dringend noodsaaklik dat die private sektor hierdie uitdaging van bemagtiging en groter billikheid aanvaar. Metodes sal ontwikkel word om die private sektor aan te moedig om betrokke te raak by die proses van landbou-ontwikkeling en
-bemagtiging.

5.2            Wêreldmededingendheid en winsgewendheid

Die doel van hierdie strategie is om winsgewendheid te verbeter deur volgehoue wêreldmededingendheid in die landbousektor se insetverskaffings-, primêre produksie-, agroverwerkings- en agritoerismebedrywe. Ses faktore bepaal en vorm die omgewing waarbinne die sektor meeding en bevorder die skepping van mededingingsvoordeel. Dié faktore is:

Elk van hierdie faktore word vervolgens bespreek, met spesifieke strategiese aksies om die landbou se mededingendheid te verbeter.

FAKTORTOESTANDE

Faktortoestande het betrekking op produksiefaktore, die beskikbaarheid en gehalte van natuurlike hulpbronne, die vlak van insetpryse soos arbeid, diesel, plaagdoders, masjinerie, kennis en infrastruktuur. Hierdie faktore is nodig as die sektor wêreldmededingend en winsgewend wil wees.

Onlangse studies toon dat faktortoestande in Suid-Afrika mededingendheid in die landbou- en die agroverwerkingsektor strem. Die belangrikste in dié verband is insetpryse, die produktiwiteit van die natuurlike hulpbronbasis, die koste en gehalte van ongeskoolde arbeid, die koste van geskoolde arbeid, administrasiekoste wat gepaard gaan met die huur en bestuur van arbeid, die gehalte van infrastruktuur, die koste van kapitaal en die koste en beskikbaarheid van tegnologie.

In vergelyking met die vernaamste graanprodusente van die wêreld soos die VSA, die EU, Argentinië en Brasilië het Suid-Afrika relatief laepotensiaalgronde, ‘n droë en onstabiele klimaat en ‘n hoëkoste-ekonomie. Hierdie faktore maak dit vir die Suid-Afrikaanse landbou baie moeilik om met daardie lande mee te ding. Om mededingend te wees, is die opsie vir boere by gebrek aan staatsteun dus om doeltreffender te wees en om produksiekoste te verlaag hoofsaaklik deur minder insette te gebruik en dit doeltreffender te gebruik.

Talle boere en agribesighede implementeer programme van rasionalisasie, kostebesnoeiing, beter arbeidsbestuur en kostedoeltreffendheid met sukses as deel van ‘n strategie om produksiekoste te verlaag. Dit bied egter net gedeeltelike en tydelike oplossings vir talle klein en medium plase en agribesighede. Staatsprogramme wat ‘n uitwerking op die verlaging van die oorkoepelende produksiekoste het, is dus nodig om ‘n belangrike komponent van ‘n mededingendheidstrategie te word.

Van besondere belang is die koste van brandstof, vervoer en kapitaal. Vervoerkoste word grootliks beïnvloed deur ontoereikende en swak bestuurde vervoerinfrastruktuur. Voorbeelde hiervan sluit in die nie-beskikbaarheid van spoorwegwaens vir grootmaatvervoer, die gebrek aan interne mededinging in spoor- en hawedienste wat tot onbetroubare en duur dienste lei, beperkte en duur lugvrag vir landbouprodukte, beskadigde en ontoereikende nasionale padinfrastruktuur en swak kommunikasie-infrastruktuur. Hierdie faktore alleen maak produksiekoste in die landbou op die vasteland van Afrika vier keer duurder as in Asië, Amerika en Europa.

Die regering het ‘n belangrike rol om hierdie kwessies die hoof te bied. Met dié doel voor oë sal die volgende programme oorweeg word:

VRAAGTOESTANDE

Die grootte, groei en samestelling van die binnelandse mark speel ‘n belangrike rol om ‘n bedryf wêreldmededingend te maak. Sterk plaaslike mededinging is belangrik, en net in uitsonderlike gevalle kan ‘n bedryf wat nie in sy binnelandse mark mededingend is nie, wêreldmededingend word. So lank die ekonomiese groeikoers laer as sy potensiële groeikoers is, sal die mededingendheid van die landbou belemmer word deur die grootte van die Suid-Afrikaanse mark en sy trae groeikoers vir voedsel en veselprodukte. Vandaar die kritieke belangrikheid van die ontwikkeling van vraag in die plaaslike mark, wat insluit, maar nie beperk is nie, tot die bevordering van nismarkte en die aanmoediging van landboutoerisme en landelike nie-boerderyondernemings en
-aktiwiteite.

Markgeleenthede word dikwels nie ontwikkel nie as gevolg van ‘n gebrek aan inligting. Die gehalte, beskikbaarheid en koste van markinligting het ‘n groot uitwerking op die mededingendheid van baie ondernemers in die agrivoedselkompleks. Sonder betroubare en tydige inligting ontwikkel nuwe plaaslike markte te stadig. Om hierdie beperkings die hoof te bied, sal die volgende programme oorweeg word:

VERWANTE BEDRYWE

Die aanwesigheid van verskafferbedrywe wat wêreldmededingend is, soos insetbedrywe, finansiële instellings, navorsingsinstellings, vervoermaatskappye, verskaffers van verpakkingsmateriaal en verskaffers van dienste soos elektrisiteit en water, het ‘n uitwerking op die mededingendheid van die landbousektor.

Groter markkonsentrasie onder insetverskaffers en verspreiders asook groter oorheersing deur multinasionale maatskappye kan ‘n negatiewe uitwerking hê op die mededingendheid van die landbousektor. Die mag van hierdie maatskappye en die gebrek aan mededinging binne die sektor kan tot hoë intermediêre insetpryse lei. In dié verband sal die staat die mededingingspraktyke in landbou-inset- en verspreidingsbedrywe moniteer en waar nodig tariefvlakke hersien of die Wet op Mededinging afdwing.

Inisiatiewe om die groeipotensiaal van die primêre landbou te ontsluit, spruit uit die feit dat produsentepryse van primêre produkte soos graan en oliesade oor tyd stadiger styg as hulle insetpryse. Die taak van produsente is om hulle produksiedoeltreffendheid te verhoog deur die doeltreffender aanwending van insette en produksietegnieke. Dit beteken dat die sleutel tot doeltreffender produksie en groter mededingendheid te vinde is in die beskikbaarheid van meer mededingende insette en die toepassing van beter produksietegnologie. Groter doeltreffendheid hang af van die toepassing van beter tegnologie. Instellings vir landbounavorsing, -opleiding en -voorligting is dus van kritieke belang vir die sektor.

Finansiële instellings is ‘n belangrike skakel om die mededingendheid van die sektor te verseker. Kommersiële boere word gewoonlik goed bedien deur die handelsbanke en die Landbank. Hierdie instellings het egter ‘n beperkte dekking en dienste in arm gemeenskappe. Verder is talle kleinboere uitgesluit van die meeste finansiële dienste as gevolg van ‘n hoë vermeende risikoprofiel, wat ‘n gebrek aan aanvullende sekuriteit insluit. Pogings om innoverende plaasvervangers vir aanvullende sekuriteit te ontwikkel, sal dus aangemoedig word. Die vestiging van plaaslik gebaseerde en mikrofinansiële instellings wat finansiëledienskoöperasies en dorpsbanke insluit, sal ook bevorder word.

PRESTASIE VAN DIE AANBODKETTING

Toestande wat bepaal hoe plase en agribesighede geskep, georganiseer en bestuur word, en die aard van binnelandse mededinging, het ‘n beduidende uitwerking op die mededingendheid van die sektor. ‘n Gesonde mededingingsomgewing in die sektor deur die doeltreffende toepassing van mededingingsbeleid, goeie sakebestuur en vaardighede moet verseker word. Boere se bestuursvermoë en die markkrag van kopers is uiters belangrike faktore in die mededingingsukses van die agrovoedselbedryf. Kleinhandelkettings het groot en geweldig magtig geword om produsentepryse plaaslik en internasionaal te beding en te bepaal. Gevolglik ondervind boere ‘n nadeel in prysonderhandelings. Om boere se bedingingsvermoë te verbeter, het dit belangrik geword om vennootskappe te vorm en langdurige vertrouensverhoudings tussen verskillende rolspelers in die aanbodketting te vestig en om aanbodkettingwisselwerking te bevorder ten einde geleenthede te skep om waarde toe te voeg. Daar sal maatreëls getref word om die ontwikkeling van mededingende aanbodkettingvennootskappe binne groot kommoditeitsgroepe te bevorder.

BEMAGTIGENDE BELEIDSOMGEWING

Die staat se invloed kan positief of negatief wees, afhangend van sy beleide, programme en bedryfstelsels. In sekere dele van die landbougemeenskap bestaan daar ‘n persepsie dat sommige staatsbeleide en ‘n gebrek aan doeltreffende implementering van staatsprogramme belemmerend is vir die mededingendheid van boerdery en die agrovoedselbedryf. Hoewel die persepsies tussen bestaande kommersiële boere en nuwe toetreders tot die sektor verskil, is daar eenstemmigheid dat die ontoereikendheid en fragmentasie van sekere dienste, swak regering en verantwoordbaarheid en swak uitvoerende besluite asook trae implementering van uitvoerende besluite, sake is wat dringend aandag moet kry. Die regering sal dus besondere aandag skenk aan verbeterings op alle vlakke van dienslewering.

RISIKOBESTUUR

Landbou is per definisie ‘n bedryf wat te kampe het met risiko in die vorm van klimaatskommelings, plae, siektes en prysrisiko’s asook natuurrampe soos droogtes en oorstromings. In die Suid-Afrikaanse konteks is MIV/Vigs, misdaad, hoë en skommelende reële rentekoerse, natuurrampe en onstabiele pryse as gevolg van die onvoorspelbare klimaat, die belangrikste faktore wat koste verhoog en mededingendheid verswak in die agrovoedsel- en veselkompleks.

‘n Doeltreffende risikobestuurstrategie is van kritieke belang vir die bevordering van risikobestuursinstrumente soos gewasversekeringsprodukte, batebeskerming en die landboutermynmark. Nog ‘n komponent van ‘n omvattende risikobestuurstrategie is ‘n vroeëwaarskuwingstelsel wat insluit toereikende toegang tot en benutting van tydige, akkurate, tersaaklike en gratis inligting oor die weer. Hoewel dit tans nie in toereikende mate gedoen word nie, sal sulke inligting voortaan beskikbaar gestel word deur landelike inligtingsentrums deur die Geografiese Landbou-inligtingstelsel. Die staat sal die breër gebruik van hierdie inligtingstelsel deur ander inligtingverskaffers bevorder.

Die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer en stinkbrand beklemtoon hoe belangrik dit is om plae en plant- en dieresiektes doeltreffend te beheer. ‘n Ontoereikende regulerings- en institusionele raamwerk (bv toenemende internasionale verpligtinge, verdeelde verantwoordelikhede, verswakte veeartsenykapasiteit en afwesigheid van infrastruktuur), tesame met ‘n gefragmenteerde en ontoereikende inspeksiekapasiteit bring mee dat hierdie sektor kwesbaar is.

Die onlangse herstruktureringsproses van plant- en gehaltebeheer en veeartsenykundige dienste is ‘n eerste stap om hierdie probleem die hoof te bied. Hierdie proses sal voortgesit word saam met die hersiening van die beleid en wetgewing rakende die land se bestuur van plant- en dieresiektes. Voorts word ‘n protokol vir die hantering van SFS-noodgevalle en aangeleenthede rakende plant- en dieregesondheid geformuleer, asook die vestiging van ‘n onafhanklike voedselveiligheidsliggaam met ‘n groter kapasiteit vir beter beheer. In die lig van die beweging na ‘n vryhandelsbedeling in die SAOG-streek sal Suid-Afrika die leiding neem met die bevordering van streeksamewerking oor SFS-aangeleenthede (uitbou van kapasiteit, harmoniëring van standaarde en prosedures, ens.).

Prysrisiko is per definisie deel van ‘n gedereguleerde landboumark. Die hantering van prysrisiko deur die toepassing van verskeie risikobestuursinstrumente soos die termynmark sal vir alle boere belangrik word. Die staat, in samewerking met die private sektor, sal ‘n omvattende opleidings- en bewustheidsprogram onder boere van stapel stuur om die gebruik van risikobestuursinstrumente soos die landboutermynmark te bevorder. Mark- en prysrisiko word ook verminder deur goeie en tydige markinligting. Hier het die staat, deur sy statistiese kapasiteit, steeds ‘n belangrike rol om te speel, terwyl ander inisiatiewe soos die onlangse skepping van ‘n Agribesigheidintelligensiestelsel ook aangemoedig sal word. Hierdie pogings sal boere en agribesighede voorsien van die markintelligensie wat nodig is om ingeligte besigheidsbesluite te neem en mark- en prysrisiko te minimeer.

Suid-Afrika het tans geen toegewyde landbousteunskemas en geen permanent funksionerende institusionele strukture vir rampbestuur nie. In die lig hiervan word daar nou gewerk aan die skepping van ‘n institusionele kapasiteit om rampbestuur te implementeer en om omvattende skemas in te stel om rampe soos oorstromings, brande en droogtes in die landbousektor te hanteer. Sulke skemas kan insluit inkomstegelykstellingskemas en risikoversekeringsprogramme wat in vennootskap met die staat, boere en private versekeringsmaatskappye ontwerp sal word.

Laastens sal staatspogings om die MIV/Vigs-pandemie te bestuur, om misdaad te bekamp en om makro-ekonomiese stabiliteit te verseker, vergroot word om ander risikofaktore vir die sektor te verminder.

INTERNASIONALE HANDEL

Toenemende mededingendheid berus op die noodsaaklikheid om die integrasie van die sektor in die wêreldekonomie vol te hou en word weerspieël deur sy vermoë om sy produkte op wêreldmarkte te verkoop. Dit kan bydra tot groter ekonomiese groei deur groter marktoegang.

Staatsoptrede om handelsgeleenthede te steun is belangrik maar sal meebring dat daar aandag geskenk moet word aan oormatige steun en beskerming aan wêreldlandbou, markte en handelsdiplomasie, om die internasionale speelveld vir die Suid-Afrikaanse landbou gelyk te maak.

Die Suid-Afrikaanse landbou het te doen met ‘n omgewing wat gekenmerk word deur ‘n stygende vlak van oordragte aan die landbou, hoë en eskalerende tariewe en ‘n gebrek aan deursigtigheid deur ontwikkelde lande. Die markte in hierdie lande word ook gekenmerk deur nie-tariefversperrings in verskillende vorme soos ingewikkelde maatreëls vir plant-, diere- en mensgesondheid. Binnelandse prosedures en grensbeheermaatreëls is oor die algemeen ontoereikend om dumping, onwettige invoere en die ontoereikende toepassing van SFS- en kwarantynmaatreëls by punte van binnekoms die hoof te bied. Plaaslike SFS-maatreëls en -standaarde het in die onlangse verlede nie met die groei van invoere en uitvoere tred gehou nie, terwyl eise van bedrywe met betrekking tot SFS-kwessies dikwels nie die gewenste prioriteit van die Regering kry nie of deur duur tydvertragings geraak word.

‘n Uitvoergeoriënteerde kultuur ontbreek feitlik orals in die Suid-Afrikaanse landbou, en die skepping van uitvoerrade vir die landbou is ‘n betreklik onlangse innovasie. Toegewyde steun vir landbou-uitvoere ontbreek sedert die afskaffing van die algemene uitvoeraansporingskema in 1997.

In wese is ‘n vraagkantbenadering (d.i. verwydering van hindernisse vir marktoegang en onbillike mededinging) asook ‘n aanbodkantbenadering (d.i. uitvoerbevordering) nodig om die ekonomiese voordele van internasionale handel ten volle te geniet. Dit sal onder andere die volgende vereis:

5.3            Volhoubare hulpbronbestuur

Die doel van hierdie strategie is om boere se kapasiteit te vergroot om hulpbronne op ‘n volhoubare wyse te gebruik en om die verstandige gebruik en bestuur van natuurlike hulpbronne te verseker. Dit sal ‘n langtermynsiening met ‘n duidelike visie en waardes verg wat die huidige gebruik van hulpbronne rig om die langtermynvoorsiening daarvan te verseker. Hierdie strategie sal ‘n uitwerking hê op grondbewaring, grondherverdeling, grondgebruik in die stedelike omgewing, sonering van hoëpotensiaallandbougrond, die bewaring van sensitiewe grondgebiede, biologiese verskeidenheid en waterstelsels, ensovoorts.

Die kern van hierdie strategie is om landboubiodiversiteit te bewaar en om die volhoubare gebruik van grond en water te bevorder deur die verhoging van gewas- en diereproduktiwiteit in geïntensifiseerde en meer volhoubare boerderystelsels. Boere se deelname is die sleutel tot die sukses van die strategie. Voorts kan innoverende benaderings om die bestuur van natuurlike hulpbronne te koppel met steunprogramme, ‘n wen-wen-situasie verskaf wat sal lei tot korttermyn ekonomiese voordele vir boere en terselfdertyd sal bydra tot die langertermynoogmerk van die bewaring van die natuurlike hulpbronbasis.

Die agteruitgang van grond- en waterhulpbronne hou ‘n ernstige bedreiging vir die land in. Strategieë moet ontwerp word om die oorsake van agteruitgang te oorkom. Sterk institusionele steunstrukture en inkrementele verandering aan bestaande boerderypraktyke sal nodig wees om die gebruik van grond en water te verbeter. Die invoering van beter boerderystelsels deur goed gekoördineerde rotasiestelsels kan ‘n groot bydrae in dié verband lewer.

Grond- en waterbewaringsprogramme sal fokus op gebiede waar daar ‘n redelike kans op sukses is: waar die bevolkingsdruk hoog is, geleentheidskoste vir arbeid laag is, grondsekuriteit hoog is, produktiewe tegnologieë beskikbaar is en waar daar toegang is tot markte, insette en dienste. As sodanig kan die suksesvolle implementering van landbousteunstelsels ‘n beduidende bydrae lewer tot die volhoubare gebruik en bestuur van natuurlike hulpbronne.

Verdere programme wat tans oorweeg word om volhoubaarheid te verbeter, is:

·         Die ontwikkeling van plantteelstrategieë wat genetiese verskeidenheid handhaaf en verbeter

·         In situ-bewaring van bedreigde landbouspesies en -variëteite in ekonomies lewensvatbare boerderystelsels

·         Investering in infrastruktuur en dienste om volhoubare grondgebruik te steun

·         Die ontwikkeling van ‘n biotegnologiestrategie vir die beste langtermynvoordeel vir Suid-Afrika en sy mense

·         Die aanmoediging van tuinboukundige produksie om gesondheids- en inkomsteredes

·         Die plasing van produksie en volhoubaarheid in ‘n boerderystelselperspektief. Dit steun omgewingsvriendelike produksiestelsels, insluitend geïntegreerde produksie, geïntegreerde gewasbestuur en organiese boerdery.

Gefokusde programme en aktiwiteite sal gebalanseer word deur ‘n holistiese siening en die beginsels van volhoubare bestuur van natuurlike hulpbronne.


6 Aanvullende strategieë

Verskeie elemente van die kernstrategieë (d.i. die strategieë vir billikheid, mededingendheid en volhoubare hulpbrongebruik) is dwarsliggend en sal bydra tot die skepping en herstel van vertroue in die landbou. Die staat beskou vertroue as uiters belangrik vir die toekomstige groei van die sektor. Met dit in gedagte is die volgende noodsaaklike ondersteunende en bemagtigende strategieë geïdentifiseer:

·         Goeie regering

·         Geïntegreerde en volhoubare landelike ontwikkeling

·         Kennis en innovering

·         Internasionale samewerking

·         Veiligheid en sekuriteit.

Hierdie strategieë is uiters belangrik omdat hulle die kritieke fondament verskaf waarsonder die strategiese doel van ‘n mededingende, inklusiewe en volhoubare landbou nie verwesenlik sal word nie. Hierdie strategieë sal hoë prioriteit geniet en word nou in meer besonderhede bespreek.

6.1       Goeie bestuur

Die beginsel van goeie bestuur is ‘n universele skakel wat regdeur die hele strategiese plan loop. Dit is nie net op die Regering van toepassing nie maar op al die ander rolspelers in die sektor. Binne die owerheid sal ‘n raamwerk van goeie staatsbestuur om ‘n samehangende, kliëntgeoriënteerde en deursigtige openbare landbousektor te vestig, die hoogste voorrang geniet ten einde ‘n gesonde grondslag te verseker om die strategiese doel te bereik.

Vennootskappe sal ‘n belangrike komponent van die strategie van goeie bestuur wees. In die eerste plek sal die Regering ‘n raamwerk ontwikkel vir vennootskappe tussen die openbare en die private sektor en NRO’s om uitvoering te gee aan die kernelemente van die sektorstrategie, naamlik billikheid, mededingendheid en volhoubaarheid. Hierdie raamwerk sal die volgende insluit:

·         Protokolle van samewerkende bestuur tussen en in die sfere van staatsdepartemente

·         Diensleweringstandaarde in ooreenstemming met die Regering se diensleweringsbeleid van Batho Pele

·         Vennootskapsooreenkomste tussen die staat en kommoditeitsgroepe en boereverenigings

·         ‘n Hoofstuk in die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan as gids vir plaaslike regerings oor strategiese aspekte rakende die landbou

·         Aandeelhouersooreenkomste tussen die Regering en openbare entiteite soos die Nasionale Landboubemarkingsraad, die Landbounavorsingsraad en die Landbank

·         Diensleweringsooreenkomste tussen provinsiale departemente en nasionale openbare entiteite

·         Kapasiteitsbouprogramme van die nasionale regering om openbare entiteite en provinsiale en plaaslike regerings te steun.

Die gehalte en doeltreffendheid van dienslewering deur die Staat sal belangrik wees om die doel van ‘n meer verteenwoordigende landbousektor te bereik. Sekere owerheidsdienste en -beleide is ook belangrik om mededingendheid in die sektor te verbeter. Voorbeelde is ‘n gesonde en funksionele reguleringsraamwerk en doeltreffende bestuur oor die algemeen. Om hierdie rede sal ‘n nuwe diensleweringsprotokol opgestel word ten einde die responsiwiteit en verantwoordbaarheid van alle openbare en private diensverskaffers te verhoog om in boere en agribesighede se behoeftes te voorsien. Die waarde van die uitkontraktering van dienste sal ook aandag kry. Groter doeltreffendheid en buigsaamheid sal verkry word deur desentralisering, kontraktering en kostedeling vir dienste. Vir dié doel sal daar in die besonder op die volgende gefokus word:

·         Keuse van die plaaslike entiteit om die gedesentraliseerde verantwoordelikhede te ontvang

·         Vorming van ‘n wetlike en kontraktuele grondslag vir die afwenteling van verantwoordelikhede en vloei van fondse

·         Formulering van die institusionele “spelreëls”

·         Opstel van standaardopdragte vir die gekontrakteerde entiteite

·         Bepaling van kwalifikasieriglyne

·         Bepaling van ‘n standaard kontrak en verkrygingsprosedures

·         Vestiging van die beginsel dat elke deelnemer optimaal tot die proses moet bydra

·         Bepaling van die gevolge van nie-bydrae.

Nog ‘n doelwit van die strategie vir goeie bestuur is om die staat te posisioneer as ‘n vennoot met geloofwaardige, konsekwente en voorspelbare beleide en programme wat die lewering van optimum voordele aan die landbou verseker. Spesifieke aksies vir hierdie doel sal die volgende insluit:

·         Omskep MinLur in ‘n Raad van Landbouministers om die bestuur van owerheidsaktiwiteite te lei ten einde die strategiese oogmerke van die landbousektor in die land te verwesenlik

·         Omskep die Interowerheidskomitee vir die Landbou in ‘n Landboubestuurskomitee.

Die laaste doelwit van die strategie vir goeie bestuur is om ‘n geïntegreerde en stelselmatige benadering te ontwikkel tot die identifisering, bestuur en deel van die landboukennis- en inligtingsbates van die openbare sektor. Belangrike aspekte sal insluit die ontwikkeling van ‘n riglyn, ‘n institusionele raamwerk en prosesse vir kennisbestuur in die landbou.

Die protokolle van samewerkende interowerheidsbestuur sal onder andere ‘n wetgewende raamwerk vir interowerheidsverhoudinge oor die landbou instel; die rolle en verantwoordelikhede tussen die nasionale en provinsiale departemente van landbou en plaaslike regering duidelik stel; die raamwerk instel om die formulering, belyning, implementering, monitering en evaluering van beleide en programme te rig en te bestuur; ‘n raamwerk instel vir geïntegreerde koördinering van begrotingsbeplanning en besteding; ‘n inligtingsbestuurstelsel vorm; ‘n raamwerk en norme en standaarde instel vir planne vir en implementering van menselike hulpbronontwikkeling; en institusionele kapasiteitbou vir provinsiale landboudepartemente en plaaslike regerings fasiliteer.

Die protokol vir gemeenskaps-openbare sektor-private vennootskappe sal aan die ander kant daarop fokus om te verseker dat elke maatskaplike vennoot wat by die proses betrokke is, aangemoedig word om iets by te dra. Die protokol sal ook verseker dat maatskaplike vennote aangemoedig word om ‘n leidende rol te speel op gebiede van hulle relatiewe vergelykende voordeel. Vir hierdie doel sal die Regering oor die algemeen gebiede van openbare goedere en dienste dek, soos beleid, wetgewing, regulasies, openbare infrastruktuur en dienste. Daar sal van die bedryf en boere verwag word om by te dra tot die ontwikkeling en doeltreffende bestuur van hulle ondernemings en verteenwoordigende organisasies en om hulle belange-standpunte aan die regering oor te dra. Gesamentlike ondernemings word ook beoog tussen die Regering, die bedryf en boere, waar elkeen die onderneming nie alleen kan aanpak nie. Sommige van die betrokke areas is menslike hulpbronontwikkeling, die verskaffing van voorligtingsdienste, die vorming en ontwikkeling van boereverenigings, en navorsing en die oordrag van tegnologie.

Laastens is die Regering besig om ‘n raamwerk van diensleweringstandaarde te vestig, wat bekend gemaak sal word aan sy maatskaplike vennote en die land oor die algemeen. Ingevolge die Batho Pele-beleid oor dienslewering is die doel van diensleweringstandaarde om maatskaplike vennote en die publiek in staat te stel om die regering aanspreeklik te hou vir die lewering op beloofde vlakke en gehaltestandaarde van dienste waartoe hy hom verbind het.

6.2            Geïntegreerde en volhoubare landelike ontwikkeling

Die strategiese bedoeling van die Geïntegreerde en Volhoubare Landelike Ontwikkelingstrategie (GVLOS) is om landelike Suid-Afrika te omskep in ‘n ekonomies-lewensvatbare, maatskaplik-stabiele en harmonieuse sektor, wat ‘n beduidende bydrae tot die land se BBP lewer. Die GVLOS sal dus die landbou en die hele landelike sektor tot voordeel strek.

Die strategiese perspektief wat die sektorplan met betrekking tot die GVLOS het, is in die bevordering van die volgende gebiede wat uiters belangrik is vir die landbou:

·         Plaaslike ekonomiese ontwikkeling met besondere aandag aan landelike dorpe, dienssentrums en dorpies

·         Die versterking van die profiel en rol van die landbou en verwante bedrywe in die Geïntegreerde Ontwikkelingsbeplanningsprosesse van veral landelike plaaslike owerhede

·         Spesiale aandag aan die bevordering van inkomstegenerering en bestaansaktiwiteite deur vroue, die jeug en gestremde persone wat primêr daarop gemik is om te voorsien in die behoeftes van arm families en die plaaslike mark

·         Landelike ontwikkelingsnodusse

·         Landelike vestigingsbeplanning om voorsiening te maak vir nuwe vestigingspatrone wat tot stand gekom het sedert die afskaffing van apartheidswette oor vestiging en die koms van die demokratiese bestel na 1994.

Sterk staatsteun en toewyding om die Geïntegreerde en Volhoubare Landelike Ontwikkelingstrategie (GVLOS) suksesvol te imlementeer, is uiters belangrik vir die sukses van hierdie sektorplan. Die strategie sal die landelike armes oor die algemeen tot voordeel strek, maar besondere pogings sal aangewend word om vroue, jongmense en gestremdes te bereik. ‘n Suksesvolle landbousektor sal ‘n belangrike komponent vorm van geïntegreerde volhoubare landelike ontwikkeling, en omgekeerd.

6.3            Kennis en innovering

Die wêreldekonomie word vinnig omvorm in ‘n kennis- en netwerkekonomie. In hierdie wêreld is voorpuntinnovering en kennis van die uiterste belang vir volgehoue mededingendheid en winsgewendheid. Dit is om hierdie redes dat die strategiese vennote wetenskap en tegnologie as ‘n baie belangrike aanvullende strategie beskou. Die hoofdoel van hierdie strategie is om die visionêre en innoverende kapasiteit van rolspelers te vergroot en dit met die toekomstige markplek te koppel.

Dit moet lei tot groter investering en gebruik van die gevorderdste en jongste produkte van navorsing, opleiding en voorligtingstelsels. Deur die implementering van hierdie strategie poog die sektor om primêre navorsing en tersaaklike opvoedkundige programme te gebruik om nuwe en strategies belangrike tegnologieë (biotegnologie, inligting, kommunikasie) te bevorder, asook ‘n reeks waardetoevoegingstegnologieë om toekomstige waarde te onttrek. Laasgenoemde sal die volgehoue mededingendheid van Suid-Afrikaanse produkte in wêreldmarkte verbeter en sal help om te voldoen aan die strenger vereistes vir voedselveiligheid wat deur die lande van die Noorde gestel word.

‘n Spesifieke aksie sal wees om investering in landbounavorsing, onderwys en voorligting te verhoog van die huidige lae vlak van 1,04 % van die landbou se bydrae tot die Bruto Nasionale Produk om te voldoen aan die internasionale norm van 3 % van die landbou se BNP, wat vergelykbaar is met die 3,7 % in die VSA, 4 % in Australië en
2,1 % in die EU, ten einde die uitdagings die hoof te bied wat deur die Regering en wêreldontwikkelings oor die algemeen gestel word. Met dié doel voor oë sal daar besondere aandag gegee word aan:

·         Die bevordering van samewerking tussen die LNR, universiteite se landboufakulteite, provinsiale landboudepartemente, agribesighede en ander landbou-navorsingsinstellings om te herfokus op strategiese prioriteite, innovering en aangepaste navorsing

·         Die oprigting van die Nasionale Landbounavorsingstelsel om landbounavorsing te integreer, te koördineer en te koppel met die bedryf en internasionale landbounavorsingsorganisasies en voorligtingsdienste

·         Die herevaluering van die befondsingsbasis om vennootskappe tussen landbounavorsingsinstellings, universiteite en die private sektor te bevorder.

Oor die jare het die Suid-Afrikaanse landbounavorsingstelsel indrukwekkende resultate opgelewer ondanks sy ingesteldheid op grootskaalse boere, en daar is dus ‘n argument ten gunste van verdere steun vir ‘n “bekende wenner”. Die afname oor die afgelope dekade in totale investering in landbounavorsing en tegnologie-ontwikkeling voldoen nie aan die uitdaging van die President vir tegnologie-ontwikkeling en die sentrale posisionering van die sektor as ‘n leier in die landelike ekonomie nie. Die staat sal die befondsing vifr landbounavorsing verhoog ten einde die deurlopende verbetering in mededingendheid en leierskap in inligting, kommunikasie en biotegnologie te bevorder, wat deurslaggewend is vir die toekoms van die landbou in Suid-Afrika.

Die hoë koste van die verkryging van tegnologie kan oorkom word deur gesamentlike ondernemings met die N&O- en tegnologiebedryf. Die staat se rol in dié verband sal die volgende insluit:

·         Verseker dat landbounavorsing deur die LNR, die universiteite se landboufakulteite, die provinsiale landboudepartemente en ander landbounavorsingsinstellings gekoördineer word en fokus op strategiese prioriteite gemik op volgehoue mededingendheid. Dit sal een van die oogmerke wees van die huidige proses om ‘n Nasionale Landbounavorsingstelsel op die been te bring.

·         Verseker dat ekonomiese, maatskaplike en omgewingsgevolge in aanmerking geneem word by die ontwikkeling van nuwe tegnologieë.

·         Bevorder institusionele rasionalisasie binne die landbounavorsingsgemeenskap, waar gepas.

·         Vergemaklik landbounavorsingsinstellings se toegang tot finansiële hulpbronne.

·         Verleen steun vir kontraktuele verhoudings tussen landbounavorsingsinstellings en verteenwoordigende bedryfsorganisasies, en met streeks- en internasionale landbounavorsingsentiteite.

6.4            Internasionale samewerking

Globalisering gaan gepaard met ‘n revolusie rakende die geredelike beskikbaarheid van inligting en tegnologie, groter beweging van goedere, dienste en mense oor grense heen, groter rykdom maar ongelukkig ook ‘n voortdurende vergroting van die gaping tussen ryk en arm.

Suid-Afrika se prominensie as ‘n demokrasie volgens die nuwe model, stel dramaties groter eise aan die land vir internasionale deelname op verskeie forums. Hierdie eise plaas ‘n stremming op die land se vermoë om die beste gebruik te maak van geleenthede en om uitdagings die hoof te bied as ‘n rolspeler op baie internasionale gebiede. Die snelle tempo van verandering in landboubestuur, -navorsing, -handel en -omgewing en binnelandse en kontinentale voedselsekuriteitsoorwegings, is dwingende redes vir Suid-Afrika om aan die voorpunt te bly van ontwikkelings wat die landbou raak. Ons belange in internasionale samewerking op landbougebied word bepaal deur politieke, handels-, tegniese en opleidingsvereistes wat belangrik is om die strategiese plan vir die landbousektor te steun.

Suid-Afrika het ‘n leierskapsrol gekry met die bevordering van inisiatiewe vir ontwikkeling in die streek en in Afrika as geheel. Voorbeelde is die SAOG-handelsprotokol, die Nuwe Afrika-inisiatief en belangrike posisies en alliansies in multilaterale instellings wat lei tot positiewe ontwikkelingsimplikasies vir die landbou in Afrika. Die Regering het internasionale samewerking en ontwikkelingsvriendelike uitkomste van internasionale verdrae geïdentifiseer as prioriteite vir die mediumtermyn, en is besig om te reorganiseer om die uitdagings van groter eise vir internasionale verteenwoordigers in die VSA, Europa en die Verre Ooste beter die hoof te kan bied.

Eise vir selfontwikkelde tegniese bystand op landbougebied spruit voort uit die Nuwe Afrika-inisiatief, SAOG-inisiatiewe en bilaterale vergaderings met Afrikalande. Die Regering, in samewerking met verskeie belanghebbendes, sal die leiding neem met die ontwikkeling van ‘n raamwerk vir tegniese bystand in die streek en op die vasteland van Afrika. Vir dié doel sal die Regering met nie-Afrika-vennote saamwerk.

In Suid-Afrika sal die Regering buitelandse skenkers betrek om ‘n investeringsprogram te formuleer om landbou-ontwikkeling te steun in ooreenstemming met die strategiese plan.

Hoewel internasionale navorsing tot nuwe verbruikersprodukte lei, veroorsaak die groter beskikbaarheid van inligting kommer by die burgerlike samelewing oor voedselveiligheid, billike arbeidspraktyke, ensovoorts. Toenemende kommer onder verbruikers oor voedselveiligheid in belangrike buitelandse markte, skep risiko’s vir ons uitvoere en vereis ingeligte en proaktiewe reaksies en ingrypings deur die owerheid. Deurlopende wisselwerking met internasionale standaardeliggame, bv FAO Codex Alimentarius, die Internasionale Plantbeskermingskonvensie, die Internasionale Diere-gesondheids-vereniging en konvensies en bewegings wat op die landbou ‘n uitwerking kan hê, soos dié rakende die omgewing, nuwe tegnologieë en intellektuele eiendom, is belangrike strategiese vereistes vir Suid-Afrika in die nuwe millennium. Die Regering is daartoe verbind om oor die volgende drie jaar sy betrokkenheid te vergroot en om kapasiteit en hulpbronne te versterk om op georganiseerde wyse in wisselwerking te tree met hierdie instellings.

6.5            Veiligheid en sekuriteit

Landelike misdaad het ‘n skokkende statistiek geword. Dit bedreig landelike stabiliteit, wat uiteindelik investering en ekonomiese groei in landelike gebiede sal belemmer. ‘n Omvattende en toegewyde strategie is nodig om die hoë voorkoms van geweld, misdaad, maatskaplike agterdog en spanning wat landelike gebiede oorheers, te bekamp en om goeie werktoestande, goeie verhoudings en groter vertroue in geaffekteerde gemeenskappe te bevorder. Volgens so ‘n strategie sal die volgende kritieke kwessies oor die kort en medium termyn prioriteitsaandag geniet:

·         Vorming van ‘n Nasionale Vredes- en Sekuriteitsforum, met lede uit alle belangrike landelike belanghebbendes—om bestaande inisiatiewe aan te vul vir die bekamping van landelike geweld, misdaad, maatskaplike agterdog en spanning wat landelike gebiede oorheers en om goeie werktoestande, goeie verhoudings en groter vertroue binne die verskillende gemeenskappe te bevorder

·         Opknapping van die strafregstelsel en steunstrukture van die stelsel sodat dit gesien en beleef word as ‘n afskrikmiddel teen misdaad

·         Die voorsiening van toereikend opgeleide en ervare polisie- en weermagpersoneel vir die SAPD en die SANW om hierdie magte se vermoë te vergroot om misdaadbedrywighede in die land te bekamp, veral in die landelike gebiede

·         Bepaalde menslike en finansiële reserwes wat aan die SAPD en die SANW toegewys moet word om die veiligheidsmagte in staat te stel om hulle mandaat uit te voer vir misdaadvoorkoming en die implementering van die landelike veiligheidsplan. Hierdie fondse sal geprioritiseer en toegewys word vir gebruik in operasies en aktiwiteite om plaasaanvalle en landelike misdaad te bekamp

·         Die strategiese belangrikheid van die Nasionale Operasionele Koördinerende Komitee se Prioriteitskomitee as koördinerende struktuur van alle rolspelers in die landelike beveiligingsplan, sal versterk word deur die nodige menslike en finansiële hulpbronne om hom in staat te stel om die landelike beveiligingsplan te implementeer en om aktiwiteite tussen rolspelers en die owerheid te koördineer.

  


7 Implementering van die strategiese sektorplan

Die visie van ‘n “verenigde en welvarende landbousektor” vereis dat vennote aksieplanne, sleutelprestasie-aanwysers, diensleweringstandaarde, moniteer- en evalueerstelsels en tydraamwerke moet hê ten einde die geïntegreerde strategiese plan ten uitvoer te bring. Dit vereis ook dat die Regering dinge anders doen – met meer spoed en dringendheid en in vennootskap met boere, agribesigheid, NRO’s en ander staatsdepartemente.

Uit die strategiese raamwerk wat hier aangebied word, blyk dit dat die aksieplan om deelname, mededingendheid en omgewingsintegriteit in die landbousektor te vergroot, gesamentlike optrede vereis om die volgende te verseker:

·         Behoorlike koördinasie tussen die verskillende entiteite betrokke by implementering, insluitend binne en buite die openbare, private en vrywilligersektore

·         Doeloriëntering in die geledere van al hierdie entiteite, om te verseker dat almal fokus op die bereiking van gemeenskaplike voordele eerder as net gebiedsbelange

·         Kapasiteitsbou op alle vlakke, en in die talle dimensies, regoor die spektrum van gevorderde wetenskaplike kennis tot groter deelname aan projekimplementering op grondvlak

·         Behoorlike beplanning van die implementeringsproses om te verseker dat projekte op die regte tyd begin en afgehandel word en om toesig te hou oor koördinering tussen die verskillende entiteite en projekte

·         Behoorlike opeenvolging van implementeringsaksies met die nodige steunaksies (kapasiteitbou, institusionele ontwikkeling, beplanning, ens.)

·         Monitering van vordering om die behoorlike bestuur van die implementeringsproses te verseker. Dit vereis spesiale aandag aan die verskaffing van inligting en bestuursinligtingstelsels asook aan die installering van ‘n moniteer- en evalueerstelsel.

‘n Aksieplan kan nie opgestel word nie sonder die volle deelname van diegene wat belas is met die verantwoordelikheid vir die implementering daarvan. Die strategiese plan maak voorsiening vir ‘n voorgestelde protokol van gemeenskaps-openbaresektor-private vennootskappe en vir gesamentlike implementering. Vir dié doel sal ‘n permanente gesamentlike komitee ingestel word tussen die belanghebbendes betrokke by hierdie strategiese beplanningsinisiatief, naamlik die Departement van Landbou, Agri SA en NAFU. Die primêre funksies van hierdie komitee sal soos volg wees :

·         Omskryf al die geïdentifiseerde strategiese inisiatiewe in besonderhede. Dit sal insluit die spesifieke aksiestappe wat beoog word, die identifisering van persone verantwoordelik vir die implementering daarvan, die identifisering van ander entiteite wat betrek moet word, die identifisering van ander hulpbronne (finansieel en ander) en die bepaling van tydroosters vir implementering

·         Skep ‘n bestuurstruktuur met die taak om steun te verleen aan die entiteite belas met verantwoordelikheid vir die implementering van elk van hierdie programme, ongeag of die entiteit in die openbare, private of vrywilligersektor is. Hierdie steun sal van so ‘n aard wees dat dit nie met die voorkeure van die verantwoordelike instelling inmeng nie

·         Skep ‘n raamwerk vir verslagdoening gegrond op ‘n plan vir die monitering en evaluering van die programme en projekte wat die strategiese plan uitmaak. Die permanente gesamentlike komitee behoort die resultate van hierdie aksies op ‘n gereelde grondslag aan die vernaamste belanghebbendes bekend te maak.

PRIORITEITSPROGRAMME

As ‘n eerste stap om die strategiese plan nader aan implementering te bring, het die strategiese vennote die volgende prioriteitsprogramme geïdentifiseer:

·         Implementering van die strategie vir veiligheid en sekuriteit om landelike stabiliteit en vertroue te bring

·         Beter regering en implementering van vennootskappe en ‘n mentorskapprogram

·         Versnelling van die program van grondherverdeling vir landbou-ontwikkeling

·         Transformasie van die stelsel van landboutegnologie-ontwikkeling en -oordrag om meer markgevoelig te wees

·         Vestig ‘n algemeen toeganklike markinligtingstelsel (inligtingstelsels, ekonomiese ontledingsvermoë in elke provinsie)

·         Ontwikkel en implementeer ‘n doeltreffende risikobestuurstelsel (plant- en dieregesondheidstelsel, natuurrampe, kredietwaarborge)

·         Verseker billike mededinging—plaaslik en internasionaal

·         Implementeer die gesamentlike visies oor arbeid en grondhervorming

·         Proses van bemagtiging in alle sektore van die agrivoedselbedryf; in hierdie proses is mentorskapprogramme uiters belangrik en dit sal onmiddellik met volle staatsteun ingestel word

·         Geteikende investering om mededingendheid te verbeter (infrastruktuur: water, elektrisiteit, telekommunikasie, spoor-, lug-, padvervoer, finansiële dienste; opleiding, meganisasie)

·         Verlaging van die oorkoepelende produksiekoste, insluitend ‘n verdere verlaging van die belastings en heffings op diesel en ander insette.

PROSESSE

Die permanente gesamentlike komitee sal op nasionale vlak verantwoordelik wees vir die monitering van vordering en sal toesig hou oor die implementeringsprogram. Werkgroepe of taakspanne sal die sleutel wees vir die implementeringsproses in die provinsies en sal aan die permanente gesamentlike komitee verslag doen. Die strategiese vennote moet bepaal hoe hulpbronne (mense en finansies) van elke vennoot toegewys en bestuur moet word in die proses van implementering van die verskillende programme en strategieë.

Die eerste en belangrikste stap is om hierdie strategie so wyd moontlik bekend te maak. Die idee is dat hierdie dokument wyd gelees moet word en dat inligting oor die implementeringsprogram gereeld met alle rolspelers gedeel moet word. Die proses van lewering van die strategiese sektorplan het dus begin.

25



2002

Gedruk en uitgegee deur die Departement van Landbou

Direktoraat Landbou-inligtingsdienste, Privaatsak X144, Pretoria 0001